Skud jou Wêreldbeker-skuld af

Die 2010 FIFA Wêreldbeker het gekom en gegaan, of het dit?  Het jy dermate aan die sokkerdolheid toegegee dat jy nou drastiese stappe moet doen om jou finansies weer op koers te kry?

Moenie moedeloos raak nie, sê Gerhard Hartman Ontwikkelingsbestuurder van Sanlam Thabazimbi. “Dit is nou die regte tyd om die voordele van gesonde finansiële beplanning op die proef te stel.” Hy stel ‘n paar maklike stappe voor:

  • Doen voorraadopname en stel ‘n begroting op
  • Neem beheer en stel ‘n begroting van jou inkomste en uitgawes op. Onthou, jou inkomste gaan waarskynlik nie verander nie, maar die meeste mense kan maklik onnodige uitgawes besnoei, deur bv. minder dikwels te gaan uiteet.
  • Beplan ‘n einde aan skuld
  • Betaal altyd eerste die skuld met die hoogste rentekoers. Gebruik kredietkaarte vir die gerief en nie vir die krediet nie. Betaal elke maand die volle bedrag en maak asof die begrotingsfasiliteit nie bestaan nie.
  • Organiseer jou banksake
  • Moenie geld mors met al daardie verskillende bankrekenings nie. Tjeks en debietorders is die duurste betaalwyses. Dit is goedkoper en gerieflik om jou banksake en betalings elektronies deur die Internet of per telefoon te doen.
  • Begin spaar
  • Jy is dit aan jouself en jou gesin verskuldig om te spaar en vir aftrede voorsiening te maak. Nou is die beste tyd om daarmee te begin.
  • Moenie na ander luister nie
  • Moenie na jou buurman, sy vriend of jou braaimaats luister wanneer jy finansiële advies soek nie. Kry vir jou ‘n betroubare finansiële adviseur en maak seker dat hy of sy die ondersteuning van ‘n gevestigde maatskappy, toepaslike opleiding en goeie verwysings het.
  • Wees op jou hoede vir bedrog
  • Moenie in die versoeking kom om beloftes van ongelooflike groei en opbrengs te glo nie. As jy ongerus voel oor iets, los dit dadelik!
  • Wees toekomsgerig

Dit is NOU die tyd om jou finansiële toekoms te beplan deur gesonde beginsels toe te pas. Wees in beheer van jou geld – en jou toekoms.

Bespreek gerus jou finansiële toekoms met een van ons Adviseurs.

Sanlam is ‘n gemagtigde verskaffer van finansiële dienste

Verskaf deur Sanlam Groepkommunikasie 021 947 2567