Kom asseblief eers agter die kap van die byl voordat jul mense beswadder of valslik beskuldig. Goeie verslaggewing berus op ondersoek en weergawe van ware feite, nie hoorsê nie.. Duidelik is daar nie genoegsame ondersoek gedoen in hierdie verband nie.
Ek as kontrakteur is nie genader om hierdie boom vir die stadsraad te sny nie. Mnr Gawie Hendriks het van my werkers kom leen om hom te help om ‘n boom af te saag. Dit het al soveel keer in die verlede gebeur dat ek die stadsraad help met sulke takies – goedgunstiglik. Ek vra nie elke keer watter boom in watter uitbreiding nie.
Dus: Die boom is nie deur my as kontrakteur afgesaag nie maar deur Gawie Hendriks. Of hy nou handlangers by Pick n Pay gaan huur het of myne gebruik, al verskil, my mense ken hul werk en die risiko aan beserings is minimaal. Dit kos ook nie die stadsraad of belastingbetaler ‘n sent nie. Ek het geen finansiele voordeel uit hierdie boom geput en ook nie deur die saag van ander waardevolle bome in die gemeenskap nie.
Ek sloop of snoei bome wat alleenlik ‘n gevaar inhou.
Ek verwag dat die persoon wat hierdie berig saamgestel het sy werk doen en ondersoek instel aangaande hierdie saak. Dan verwag ek ‘n formele verskoning.
Stof tot nadenke: As hierdie boom dan so belangrik was waarom het niemand ‘n foto van hom geneem voor hierdie insident nie.
Dit is ook die eerste keer dat ek hoor dat ‘n droë hardekoolboom wat skuins oorkant ‘n erf, anderkant ‘n teerpad, in die padreserwe, die waarde van daardie erf kan beïnvloed.
Die res van die klomp sensasiesoekers: Gebruik die energie wat jy mors op beswaddering en doen iets vir jou gemeenskap – 67 minute. Daar is soveel armoede in ons gemeenskap onder ons blankes. Raak betrokke. Daar is mense wat honger gaan slaap in jou omgewing – raak betrokke. Hou op om altyd die kollig op jouself te plaas en spreek werklike probleme aan – armoede, honger, koue.
Johan Potgieter
