Vleislus en biltong kultuur

THABAZIMBI – “In 2009 was die beesbiltong so gewild dat ons teen 9:30 vm uitverkoop was” het een van die vleismark-organiseerders van die Apiesdoring karnaval laas week gesê. Daarom is besluit om in 2010 die beesbiltong se voorraad te verdriedubbel. En teen R110 p/kg sal dit dalk ook net ‘n uur of twee langer hou. Die beste raad is om maar vroeg in die tou te val: verkope begin reeds 08:00. Behalwe die bees en wildsbiltong is daar tonne A-graad beesvleis en lamsvleis. Sewe en twintig jong osse is die laaste maande gevoer – en dis topvleis! Verskeie snitte sal vir weggee pryse verhandel word.

Om net enkeles te noem: T-bene teen R45-00 p/kg, maalvleis R35 p/kg, kookvleis R29 p/kg, “rumpsteak” teen R45p/kg en die baie gewilde boerewors word verkoop teen net R39-00 p/kg!

Honderde sosaties met van die sagte vleis sal ook daardie dag gebraai word.

Hierdie jaar is ook besluit om hoenders te verkoop. Maar die soort wat jy by jou ouma aan huis geëet het as kind. Díe soort wat op die plaaswerf rondgeloop het en self geslag is: regte plaashoenders of skrophoenders. Die soort waar die hoender boudjie darem meer as twee goeie happe vat as wat ons deesdae gewoond geraak het met die vinnige groei hoenders.

Alta en haar span wat die vars wildvleis hanteer, is hierdie jaar ook in die vleissaal. Daar is gemarineerde fillets en ”potroast”, “russians”, opgestopte wildsboude en skenkels (vir potjie), wildsalamis ens. Vir diegene wat gesond wil eet en die cholesterol wil dophou, is dit die plek waar jy jou aankope kan doen.

Kom asseblief vroeg om teleurstelling te voorkom. En daar is plek in die koelkamers om jou vleis te bêre tot jy en jou gesin die middag moeg gekuier is.

Hierdie massa vleis- en biltongverkoping vind plaas by die 3de Apiesdoring karnaval op die Hervormde kerkterrein – net buite die dorp oppad na Ellisras.

Vir navrae kontak Izak Joubert (083 488 6357) of Hennie van der Linde (083 507 0335).