THABAZIMBI – Dis maar min mense wat dit kan doen, maar party kan ‘n hoenderhaan se kraai namaak, dat die haan terugkraai. Enkeles kan ‘n jakkals se roep namaak en enkeles kan fluit soos sekere voëls. Die organiseerders van die Apiesdoring karnaval is egter opsoek na die persoon wat ‘n donkie se balk die beste kan namaak. Tuffy Reynecke het belowe hy sal reël vir twee bronstige donkies wat hopelik moet terugbalk as die “donkies” mekaar begin roep! Die kompetisie begin 10:30 en ‘n reuse kontantprys van R5000 is te wen. Maak jou reg vir pret en lekkerlag.
Die “raai die gewig van ‘n eland karkas” sal ook weer daar wees. Raai reg en jy wen díe bok – gratis na jou smaak opgesny, verpak en in biltong gespesery.
Vermaak en speletjies is díe karnaval se spesialiteit. Pa en ma kan op ‘n baal sit en vetkoek eet terwyl boet sy boomklim vernuf kan toets met die boomklim kompetisie. Ander vermaak vir jongmense is die laser klei duifskiet, kettieskiet, boogskiet, ‘n spookhuis, ‘n reuse tombola (wat soos ‘n “taxi” opgemaak word), ‘n lewende hawe stal met talle plaas- en troeteldiere en ‘n lekkergoed stal wat die kinders se verbeelding sal aangryp. Of bring die kleingoed om hul eie kolwyntjies te versier met ‘n mengelmoes van kleure en vorms.
En dan is daar ‘n eerste: ‘n kinderveiling (nee, die kinders word nie opgeveil nie) – dis ‘n veiling waar net 2-17 jariges kan bie! ‘n Kaskar, miniatuur varkie, fietse ens. is van die artikels wat te koop is. Seuns en dogters: tel julle sakgeld en vra vir oupa ‘n lening want jy gaan dit nodig kry.
Daar is selfs ‘n riembrei demonstasie met ‘n kameelperdvel!
Die Thabazimbi Apiesdoring karnaval word gehou DV Saterdag 7 Augustus van 9vm tot 3nm by die Hervormde kerkterrein net buite die dorp. Toegang kos jou niks!
