Gholfkomiteeverkiesing lê voor

THABAZIMBI – Die Beterbal kompetisie van verlede Saterdag is gewen deur Jannie van Graan en Jakkie van der Wateren met 47 punte. Alta Venter en Marina van der Wateren met 46 was tweede.

‘n Belangrike tyd lê in die komende maand vir die klub voor die deur. Dit val weg met die Algemene Jaarvergadering wat Woensdagmiddag, 4 Augustus, na die spel gehou sal word. Dit is altyd ‘n belangrike gebeurtenis en lede word ernstig versoek om dit by te woon.’n Heel nuwe komitee moet dan ook verkies word.

Vrydag 6 Augustus is dit weer Interaksie Gholf wat deur Eagle Mountain Spur geborg word. Dit word gevolg deur Saterdag se maandelikse Slagspel waar daar weer ‘n gelukkig lede trekking sal wees. Onthou net die wenner moet teenwoordig wees om die prys op te eis.

Die Sages speel Donderdag 12 Augustus op Koro Creek. Saterdag 14 Augustus is dit die Dreiers Borgdag. Vrydag 20 Augustus is dit Interhoër gholf op Thabazimbi se baan. Saterdag 21 Augustus speel die manne op Mooinooi liga teen Mooinooi. Die Steelwings Motorfiets klub borg Saterdag 28 Augustus se gholf. Elke Woensdagmiddag word die gewilde Pick n Pay Sonsakker gespeel waar daar ook elke keer ‘n gelukkige trekking is.

Daar is die afgelope week weer gekontoleerd gebrand om van die woeste buiteveld ontslae te raak. Dit lyk nou nie so mooi nie maar met die eerste reën gaan die baan weer ‘n paradys wees.

Daar is tans ook weer iemand wat gedurende die dag vanaf 10 uur ‘n beperkte spyskaart beskikbaar stel.

Die nuwe finansiële jaar het ook begin en ledegeld is weer betaalbaar. Die klub is nog steeds een van die mees bekostigbare klubs in die land. Daar is dan ook die geleentheid vir belangstellendes om deel te word van Thabazimbi se familie van gholfspelers. Gholf is ‘n unieke spel, en om op een van die mooiste 9-putjie bane in die land te speel is net so ‘n belewenis. Kom gerus en n ervaar die gholfspelers se besondere gees.