Health

Moenie jouself verloor in dwelms

Kapt Colin Morris (middel, agter) saam met lede van die Thabazimbi se Kinderbeskerming Omgee Groep, hierdie week by die Laerskool Thabazimbi. Hy het oor dwelms gepraat.

THABAZIMBI – Dwelms laat ‘n mens soveel kontak met realiteit verloor dat daar weinig van die gebruiker se ware self oorbly, was een van die boodskappe wat kapt Colin Morris van die Johannesburgse Kinderbeskermingseenheid aan jongmense gegee het die afgelope week. Hy het by skole en oor Thaba Stereo gepraat oor dwelmgebruik, as deel van Kinderbeskermingsweek in Mei vanjaar.

Morris het opgetree op uitnodiging van Thabazimbi se Kinderbeskerming Omgee Groep wat vanjaar onder leiding van die SAVF gestig is, en wat lede het uit  alle sfere van die gemeenskap.

Dwelms kan ‘n mens se bui en persoonlikheid bepaal en laat voel of jy iemand is wat jy nie is nie. Maar ‘n mens kan nie vir homself lieg nie, dus is die gebruik daarvan nooit volhoubaar nie, het Morris gesê.

Meeste gebruikers van dwelms kom onteenseglik verskriklike dinge oor, iets waarmee hy baie te doen gehad het in sy 12 jaar as opgeleide paramedikus, van arms wat afvrot tot lewens wat verloor word. Party plattelandse kinders eindig op die strate in stede of word ouers wat nie hul kinders versorg nie en hul gesinslede mishandel. Hy het dit egter duidelik gemaak dat die belangrikste vir die jongmense die begin van die proses is en nie die einde nie.

Die eerste keer wat ‘n dwelm, hetsy wettig (soos alkohol, sigarette en gom) of onwettig, uitprobeer word lei meestal na ‘n volgende stap. Dit is hier, voordat die verslawing kan begin, waar die jongmense van vandag reeds standpunt moet inneem, meen Morris. Hy het ook gewaarsku teen middels wat reeds met die eerste keer se gebruik afhanklikheid kan vorm.

Morris het die kinders gewaarsku dat dit nie net die staat, ouers en onderwysers se plig is om kinders te beskerm nie, maar ook hul eie. En dat hul dus verantwoordelikheid vir hul eie lewens moet neem.

‘n Video-uittreksel van verskillende dwelms se effek op ‘n motorbestuurder is vertoon. Aan die einde word die motorbestuurder gesien, met net die stuurwiel en geen motor nie – ‘n duidelike verwysing dat iemand wat dwelms gebruik op die ou end met niks eindig nie.