Dorp in oproer oor afsaag van hardekoolboom

Al wat oor is nadat die dooie hardekoolboom summier afgesaag en verwyder is.

THABAZIMBI – Inwoners, ontwikkelaars en raadslede is in oproer oor die afsaag van ‘n reuse hardekoolboom in Uitbreiding 37, agter die Eskom-werf.

Die boom, wat beskryf word as ‘n baken in die omgewing, het twee dik stamme gehad van amper ‘n halwe meter in deursnee. Die boom se ouderdom word geskat op een- of selfs tweehonderd jaar.

Die boom, wat waarskynlik doodgegaan het toe die paaie vir die residensiële ontwikkeling gebou was, het sowat 500m vanaf die ingang van Noordstraat skuins voor die eerste huis in die ontwikkeling, dié van Faan Erasmus, tussen die pad en die grensheining gestaan, dus nie op ‘n erf nie.

Erasmus, aan wie die grond aanvanklik behoort het en wat die ontwikkeling geloods het voordat hy dit aan ontwikkelaars Dries Raadt en Bertie Joubert verkoop het, was bitter ontsteld.

Hy meen dat die verskil tussen mense wat die natuur liefhet en dié wat geldelike waarde daaruit wil put amper onoorbrugbaar is. Erasmus het kort voor die boom-insident ‘n beroerte gehad en sy familielede was baie bekommerd omdat hy hom so ontstel het oor die afgekapte boom.

Volgens hom het die waarde van sy erf, skuins oorkant die afgekapte boom, se waarde met R100 000, gedaal omdat die boom verwyder is.

Volgens baie oog- en hoorgetuies het ‘n kontrakteur, Johan Potgieter, Dinsdag 29 Junie, die reuse hardekoolboom op instruksie van die Superintendent van Parke van die Thabazimbi Munisipaliteit, Gawie Hendriksz, afgesaag.

Volgens inwoners wat teenwoordig was met die onderonsie oor die boom, het Hendriksz gesê dat die boom op munisipale eiendom staan en dat hy daar kan doen wat hy wil. Hy het ook te kenne gegee dat die hout gebruik sal word vir ‘n begrafnis in Regorogile.

Ander mense het gespekuleer dat die reuse boom se twee stamme staanplek by ‘n lapa of nuwe huis iewers in die omgewing sou kry.

Volgens die Departement van Waterwese en Bosbou, is daar twee wette wat die afkap van sekere beskermde spesies verbied, ongeag van op wie se eiendom dit geleë is. Afkap daarvan sou ‘n oortreding van die Nasionale Bosbou Wet behels.

Spesiale toestemming moet verkry word van staatsdepartmente vir die afkap van bome soos hardekool, tambotie en kameeldoring. Selfs die hout van hierdie bome word beskerm en toestemming moet verkry word vir die vervoer en uitvoer daarvan.

‘n Klagte is by die plaaslike polisiekantoor gelê oor die afkap van die hardekool.

Die afkap van die boom het soveel ontsteltenis uitgelok dat beide Bertie Joubert en raadslid Ivan Keyser die volgende dag die Munisipale Bestuurder, Rodger Nkhumise, oor die aangeleentheid gaan spreek het.

Die Munisipaliteit is tans besig om ondersoek in te stel na die voorval en het aangedui dat hulle kommentaar sal lewer sodra die ondersoek voltooi is.