SportTop Stories

Ryp laat bal verder rol

Photo by Easywebsites.ky (http://www.flickr.com/photos/fevisyu/2335224771/)

THABAZIMBI – Die gebruiklike Slagspel het verlede Saterdag weer sy beurt by Thabazimbi Gholfklub gehad. Met die kwaai ryp wat ons hierdie winter gehad het kry mens skielik ‘n hele paar meter meer rol op die skoonvelde.

Die goeie tellings gee dit ook weer, soos Alta Venter se wentelling van 67 aantoon. Chris Bronkhorst (69), Rudi Conrad (71) en Piet Venter (74) was die ander goeie tellings.

Daar is gemengde uitsprake oor die rookhok wat nou bykans die helfte van die kroeg in beslag neem. ‘n Mens wonder hoe en wanneer die rook/nie-rook kwessie opgelos kan word. Lede moet maar net leer om mekaar se sienings met respek te hanteer.

Saterdag 10 Julie vind die HMT Mining borgdag plaas. Die Dames se Slag van die Bosveld (Battle of the Bushveld) word op 17 Julie gelewer. Die mans kan egter ook speel as daar plek is.

‘n Driehoekige botsing tussen Thabazimbi, Amandelbult en Swartklip word vir Saterdag 24 Julie beplan. Daar word al lank oor so ‘n dag bespiegel en dit kan tot groot dinge lei. Saterdag 31 Julie gaan ten bate van die Graad R Tjokkers van die Laerskool gehou word.

Die gereelde Pick n Pay Sonsakker word in die winter oor net ses putjies gespeel, maar bly ‘n baie populêre spel.