Plaaslike traumaberader se boek op die rakke
THABAZIMBI – Dr Tessa van Wijk, ‘n spesialis in traumaberading en bekende skrywer van ‘n maandelikse rubriek in Die Kwêvoël se Vroueblad-bylaag, se eerste boek, Genees jou Trauma is in Februarie vanjaar vrygestel.
Haar besonderse talent op hierdie teer gebied word gereeld deur TV-aanbieders, radio-omroepers en joernaliste gebruik vir kundige insette.
Hierdie lang-verwagte boek is ‘n moet vir elke huis. Dit is die eerste self-help program in Afrikaans vir die verwerking van enige trauma – van kaping, roof en moord tot siekte, verlore liefde, finansiële krisisse of egskeiding.
Volgens Magdaleen Kruger, stasiebestuurder van RSG kry Dr Tessa dit reg om uit die blaaie van ‘n boek uit te klim, haar voete stewig op die aarde te plant en dan op ‘n praktiese manier enige iemand uit die woestyn van trauma te lei. Sy doen dit met begrip, deernis en empatie; sonder om in sentiment of religie vas te val. Geen trauma is vir haar te gering of te groot om jou te help nie. Sy’s ‘n gewilde en geliefde stem op RSG se weeklikse deurnag-traumaberadingsprogram. Sy sê nooit traumaverwerking is maklik nie, maar tog maak sy op ‘n manier vir elkeen die hantering daarvan makliker.
Voorts sê Magdaleen dat hierdie boek nie teorie is nie, dit is ‘n handleiding met praktiese wenke wat jou konkrete stappe gee om jou trauma te hanteer, te verwerk en te oorkom. Dr Tessa doen dit aan die hand van gevallestudies waarmee jy heel waarskynlik ook sal kan identifiseer.
Menige Vroueblad-lesers het al gebaat by dr Tessa se traumaberading en hierdie praktiese sagteband boek kan nou in die privaatheid van jou woonkamer lei tot persoonlike genesing en groei.