General

HFM Interhoër ’n groot sukses

THABAZIMBI – Hoërskool Frikkie Meyer het Saterdag 27 Februarie die 47ste Bosveld Atletiek Uitnodigingsbyeenkoms, oftewel Interhoër op hul eie atletiekveld aangebied. Volgens almal teenwoordig was die dag ‘n reuse sukses en kan HFM trots terugkyk op ‘n goed georganiseerde sportbyeenkom.

Buiten die aanbieding het HFM met ‘n sterk poging op die baan voor die dag gekom en eindig tweede. Hulle het met die Coca Cola Wisseltrofee vir die beste dirigente en die Grootgeluk Steenkoolmyn Wisseltrofee vir interhoër sang weggestap, ‘n toekenning wat hulle nou vir die eerste keer in 21 jaar ontvang.

Die finale puntestand was as volg: Hoërskool Piet Potgieter wen met 620 punte gevolg deur HFM met 499.5 punte, Hoërskool Nylstroom met 477 punte, Hoërskool Ellisras met 391 punte, Hoërskool Warmbad met 372.5, Hoërskool Ben Viljoen (Groblersdal) met 358 punte en Hoërskool Hans Strijdom (Naboomspruit) met 292 punte.

Die skool wil graag almal wat op die dag op een of ander manier betrokke was hartlik bedank vir hulle ondersteuning en samewerking. Van die personeel wat so hard gewerk het om alles reg te kry met die beplanning, die reël van borge, die opmaak van die pawiljoen, die ouers wat gehelp het by die hekke, die ouers wat 5 uur in die oggend busse verwys het na die staanplekke en almal wat teenwoordig was asook die gemeenskap vir hulle ondersteuning en almal wat die dag bygewoon het. ‘n Spesiale dank ook aan die vrywilliger nie-ouers van die Active Live Gym oggend-sessie aerobics klas wat reeds vanaf 05:00 gereed gestaan het om pannekoek vir die besoekers te bak.