General

Drommespel met Bosveld Akademie se borge-aand

THABAZIMBI – Verlede Vrydagaand, 26 Februarie, het Bosveld Akademie ‘n borge-aand ter vieringe van hulle 15de bestaansjaar aangebied.

Die verrigtinge is deur Gerhard Hartman, voorsitter van die opvoeding raad(OR), begin met ‘n bedanking aan die gaste wat verbonde is aan die skool vir hul insette die afgelope 15 jaar. Volgens Gerhard is dit veral die afgelope twee jaar wat baie samewerking vereis het. Verder het hy sy dank uitgespreek teenoor almal wat betrokke was met die beplanning van die nuwe skool geboue, die uitleg van die terrein en dies meer, en ook aan Tjaart Coetzee vir die skenking van die gronde waarop die skool gebou is. Daar is op die stadium amper 100 leerlinge in die skool. Die jaar het vir Bosveld Akademie baie goed begin met die inlyf van die nuwe skool en ook die sport gronde, ‘n glasie is geskink op die skool en sy personeel. Daarna het ds Coock die tafelgebed gedoen waarna almal heerlik kon smul aan al die disse en veral die nageregtafel het groot skares soettande gelok.

Die gaskunstenaar vir die aand was Hans Drommedaris wat almal welkom geheet het, van Steve Hofmeyr tot Jurie Els en hulle baie hartlik bedank vir hulle insette in die musiekbedryf, hy het gekgeskeer met alles en almal maar dit was veral sy “staaltjies” wat hy vertel het wat die gehoor laat skaterlag het.  Sy liedjies soos “Groen koring lande”, “Deur die drade”, “Popcorn”, “Skoonma” en “Jy’s die enigste een vir my” om maar ‘n paar te noem, het hy die gaste baie geniet. Sy grappe en demonstrasie van ‘n “dronk” man wat sy glasie mooi horisontaal hou oor al die slaggate van ons land het die gaste laat ruk soos hulle lag. Hy het almal besig gehou en van die kleinste tot amper die oudste het hy op sy verhoog laat dromme speel.