Ons lesers skryf – Rommelstrooi, Seringbome en Uur vir die aarde
Verlede week se koerant het weer (vir ‘n tweede keer) berig oor die onwettige rommelstrooiery in die veld, op leë erwe en selfs in die spruit. Mens kan nie glo dat daar mense is wat so blatant is en so ongeskik optree deur hulle afval sommer so op enige plek af te laai nie, maar daarmee saam kan mens nie verstaan hoekom hulle nie ordentlik gestraf word nie. Dit kan tog nie so moeilik wees om vas te stel wie se rommel dit is of wie dit daar weggooi nie. Die eienaars van die vullis, wat volgens die artikel meeste (onwettige) lodge operateurs buite die dorp (wat seker nog wil kla oor grondbelastings ook), of boukontrakteurs is, moet geidentifiseer word en SWAAR beboet word. En as die Munisipaliteit dit nie doen, wel dan berus dit by jou en by my om ‘n saak teen hierdie mense te gaan maak, hetsy by die Polisie of by die Department Omgewingsake. Rapporteer dit by Eugene (Omgewingsake en Wildbewaring) hier in die dorp, of skakel die “Enforcement & Compliance” afdeling in Polokwane (015 291 1315). As jy dink dit is ernstig genoeg (soos iemand wat gereeld oortree), skakel sommer die nasionale Groen Skerpioene direk (082 225 6076). Hulle vat nie nonsens nie.
Tweedens, kan die Munisipaliteit, Spoornet (stasie), Eskom (hulle depot buite die dorp) asook al die betrokke inwoners wat seringbome op hulle erwe het nie asb. iets doen om een en elk van die blêrrie goed uit te haal nie? Seringbome is ‘n verklaarde pes en moet volgens wetgewing deur die eienaar van die grond waarop dit staan verwyder word. Thabazimbi is vervuil van die goed.
Hennie Pauw het onlangs berig oor die prospekteringsaansoeke van SASCO en Thabazimbi Mineral Resources en die se direkteur, Mnr. Allen Tavakolli. Nie alleen klink die naam uitheems nie, maar sy ID nommer op die CIPRO maatskappy registrasie dokumente bevestig dat alles nie pluis is nie. Sy ID nommer is bloot sy geboortedatum en die res alles zero’s. ‘n Fout (op twee registrasie dokumente), ‘n buitelander wat dalk aansoek gedoen het vir burgerskap en nog wag vir sy nuwe ID nommer, of dalk bloot net nog ‘n opportunistiese uitlander wat dink hy kan kom skep hier? Ek wil nou nie zenofobies klink nie, maar mens kan nie help om op te merk dat dit hoofsaaklik buitelanders is (so ook Aquila Steel) wat hulle self skuldig maak aan prospektering in van ons mooiste natuurgebiede nie. Hoe ons regering dit kan toelaat dat ons laaste stukkies natuurerfenis geplunder word deur uitlanders vir wie dit ooglopend niks beteken nie, gaan mens se verstand te bowe. Ongelukkig kon ons nog nie vasstel of SASCO wel teen 14 Maart sy Omgewingsbestuursplan (OBP) kon inhandig of wat die status is van die aansoeke nie, aangesien die betrokke DME amptenaar nou al vir amper ‘n maand nie op haar pos is nie… Meeste sulke individuele aansoekers doen egter nooit hulle OBP nie aangesien dit te duur is, wat beteken dat hulle nie in aanmerking kan kom vir prospekteringregte nie.
Laastens, Earth Hour 2009 was ‘n reuse sukses! Ongeveer 400 stede dwarsoor die wêreld het deelgeneem. Daar is foto’s op die Internet van die Sydney hawe brug en opera huis, Tafelberg, Groot Piramides, die Colosseum, Big Ben, Broadway, Empire State building en baie ander bekende landmerke dwarsoor die wêreld wat in donkerte gehul was. Eskom reken dat Suid-Afrikaners ongeveer 4.7 miljoen gloeilampe in S.A. afgeskakel het wat ongeveer 400 MW elektrisiteit gespaar het in die een uur (bron: www.news24.com). Volgens my berekeninge beteken dit 400 ton minder skadelike koolstofdioksied wat in die atmosfeer vrygelaat was. Dit wys mens wat gedoen kan word, ongelooflik!
Johan van Rooy – EcoZa