General

Boervrou slaan mamba dood met stok

Die swartmamba word in party kringe as die dodelikste slang ter wêreld geag.
Die swartmamba word in party kringe as die dodelikste slang ter wêreld geag.

THABAZIMBI – ‘n Rustige kuiertjie op die plaas het Saterdagmiddag 28 Maart ‘n lelike wending geneem toe ‘n bykans 3 meter mamba vyf hondjies dood gepik het.
Me Martie Meyer het by haar moeder, me Nelsie Lombard op die plaas gekuier, toe hul ‘n vreeslike lawaai by die honde hoor net nadat hul die stoep verlaat het. Hulle het hul gehaas na die honde en hul vasgeloop in ‘n sowat 3 meter swart mamba waaroor die honde so wild tekere gegaan het. Nog voordat hul ‘n vuurwapen kon kry, het dié giftige slang reeds 5 hondjies gepik. Al wat me Meyer in die hande kon kry, was ‘n stok van so ‘n meter lank waarmee sy hom gestormloop en doodgeslaan het. Van die ses hondjies het net een oorleef.
Swart mambas is blitsige, senuweeagtige en dodelik giftige slange. Wanneer hul bedreig word is hul hoogs aggressief. Swart mambas is al geblameer vir veelvuldige sterfgevalle en in Afrika mites word hul vermoëns oordryf tot legendariese proporsies. Vir hierdie redes word die swart mamba in baie kringe as die wêreld se dodelikste slang geag.