ERA neem kinders se veiligheid ernstig op!
‘n Totaal van 140 graad een leerders het met groot oë na die polisie gestaar, maar baie gou het Konstabel Karlien Greeff en Konstabel Lekalakala die onsekerheid in hulle gemoed tot rus gebring. Hierdie twee bevoegde lede van ons plaaslike SAPD het op 10 Februarie 2009 ‘n besoek gebring aan Laerskool Thabazimbi saam met die agente van ERA Eiendomme.
Dit is al ‘n instelling dat ERA Eiendomme jaarliks die laerskool besoek. Tydens die besoek word al die Gr 1 leerlinge se vingerafdrukke op ‘n spesiale sertifikaat aangebring. Hierdie sertifikaat word saam met ‘n foto van die leerling bewaar vir noodgevalle.
Terselfdertyd kry leerders die geleentheid om boeie en die koeëlvaste baadjie te hanteer, wat baie opgewondenheid teweeg gebring het.
Hierdie projek word deur ERA Suid Afrika geloods as ‘n diens aan die gemeenskap. Die rede waarom vingerafdrukke gebruik word, is omdat foto’s dikwels onduidelik is, en kinders verander so vinnig dat foto nie gebruik kan word wanneer kinders opgespoor moet word nie.
Vir verdere navrae, kontak ERA se vriendelike agente by 014-7722628 of besoek ons by ons kantoor in die SPUR sentrum.