Thabazimbi Stapklub durf Waterberge aan

THABAZIMBI – Die Thabazimbi Stapklub het onlangs die Waterbege aangedurf toe nege van hul lede die naweek van 6-8 Februarie 2009 die Mateke-staproete aangepak het.
Die roete is op ‘n plaas baie naby aan die Marakele Nasionale Park direk langs die Mambarivier geleë. Die stappers het daar in die basiskamp wat uit goed ingerigte “boomhuise” bestaan gebly.
Speekroetes oftewel sirkelroetes van verskillende afstande word vandaar gestap.
Volgens Hugo Coetzee, organiseerder van die staproete, was die groep aangenaam verras met die asemrowende natuurskoon langs die Mambarivier. Hul was ook bevoorreg om te beleef hoe ‘n roete lyk nadat daar 400mm reën die vorige week in die area geval het, met die gevolglike kortermyn-skade, maar langtermyn voordele. Die groep kon dus sien hoe water uit skeure, rotslae, voetpaaie en voertuigpaaie sypel asook vanaf elke helling in die veld, wat die reuk van nat, koel grond teweeg gebring het. Die jaarlikse gemiddelde reënval vir dié area is  ongeveer 400mm.
Vir die lede was dit ‘n onvergeetlike naweek en sal hul enige persoon aanbeveel om dié roete te stap. Die volgende roete sal binnekort in Die Kwêvoël aangekondig word, wat ‘n sirkel/rugsak roete sal wees.
Die ledetal van die Stapklub wissel tussen 20 en 30, dis egter ‘n groepie van 10 tot 12 stappers wat gereeld aan die staproetes deelneem.
Die organiseerder, Hugo, doen graag ‘n beroep op die gemeenskap om betrokke te raak by hierdie staproetes om ook die wonderlike, sielsverrykende ervarings saam met die stapklub te beleef.
Vir enige inligting in die verband kan Hugo Coetzee by 014 772 1836 (na ure), 014 777 4680 (werksure) of 082 562 5774 gekontak word.