Precrete amptelik geopen
NORTHAM – Die amptelike opening van Precrete sementaanleg het op Donderdag 18 September by Northam Platinummyn plaasgevind.
Tien jaar terug het die maatskappy by Amandelbult ontstaan en gegroei tot een van die mededingendste maatskappye in die bedryf. Precrete gaan verantwoordelik wees vir die maak van verskillende tipe sement by die aanleg, asook die aanwending ondergronds van verskillende produkte wat bydra tot die ondersteuning en veiligheid van die myn.
Die opening is waargeneem deur Precrete se besturende direkteur Piet du Toit. Ook teenwoordig by die geleentheid was Precrete se BBE-vennoot ZL Combi, Precrete direkteur Mark Hedley, Northam Platinum se produksiebestuurder At van Niekerk en ander verteenwoordigers van Precrete en Northam Platinummyn.
Die nuwe tak van Precrete is vol vertroue dat hul werksaamhede uitgebrei sal word na ander omliggende myne. Die Precrete bestuurspan by Northam bestaan uit areabestuurder Deon Azar, bestuurder: ondergrondse afdeling Neil Struwig, aanlegkoördineerder Marlise van der Merwe en administratiewe beampte Marinda Olivier.
By die ondergrondse gedeelte verrig senior toesighouer Johan Bezuidenhout en toesighouers Fanie en Kerneels Bezuidenhout ‘n belangrike rol om alles glad te laat verloop. Buiten die bestuurspan is daar tans meer as 30 werknemers bo en ondergronds in diens van die tak.
Die opening is afgesluit met ‘n heerlike geselligheid by die mynlapa.