Boedelbeplanning vir die sakeman
THABAZIMBI – Lede van Thabazimbi Sakekamer het Dinsdagoggend tydens ‘n Sake-Ontbyt meer inligting aangaande die belangrikheid van Boedelbeplanning ontvang. Die ontbyt is in ‘n gesellige atmosfeer by Eagle Mountain Spur vanaf 06:00 gehou en is goed deur die sakelui ondersteun.
Die gasspreker was Gerhard Hartman van Sanlam. Hy het kortliks gewys op die wysiging in wetgewing aangaande boedelbelasting. Hierdie veranderings hou heelwat finansiële implikasies in wat ‘n besigheid, veral in die geval van ‘n familie- of eenmansaak, se einde kan beteken.
Die grootste impak is die feit dat slegs die eerste R3,3 miljoenrand van die boedel van boedelbelasting vrygestel word. Op die res word daar ‘n 20% boedelbelasting gehef. Dit beteken dat die boedel R200 000 vir elke R1 miljoen bokant hierdie bedrag sal moet opdok. Min besighede beskik oor hierdie tipe van los-kapitaal en erfgename staar bankrotskap in die gesig aangesien hierdie boedelbelasting tot geregtelike verkopings aanleiding gaan gee.
Besighede gaan deur twee stadiums naamlik die eerste gevestigde stadium wat deur die beginsstadium voorafgegaan word, en die tweede gevestigde stadium wat deur ‘n groeistadium, waartydens uitbreiding en nuwe projekte aangepak word voorafgegaan word. Kyk ‘n mens net na die waarde van eiendomme sal jy besef dat hierdie perk baie gou bereik gaan word en dat kontantvloeiprobleme kan ontstaan indien die besigheid deur ‘n vennoot of familie oorgeneem word en daar nie behoorlik voorsiening hiervoor getref word nie. Aangesien baie eenmanbesighede op die eerste gevestigde stadium reeds verkies om nie uit te brei nie en net te handhaaf, kan bogenoemde feit ernstige probleme veroorsaak.
Daar is ook beperkings op skenkings aan familielede en moet koste-effektief oorgedra word. Daarby moet verbande op eiendom ook deeglik in berekening gebring word.
Sorg dat jou testament in orde is aangesien dit ‘n groot rol in boedelbelasting speel. Gebruik dit vir effektiewe ver-erwing veral as die besigheid aan jou nageslag oorgedra word. In baie gevalle is daar ook ‘n bk of trust betrokke wat die situasie kan vererger indien dit nie reg aangewend word nie.
In die beplanning van so ‘n boedel moet dinge soos batevervanging ook in ag geneem word. Voertuie en toerusting hou nie vir ewig nie en die kostes om dit te vervang moet deeglik in gedagte gehou word. Net so kan daar vervanging van personeel wees wat ‘n verdere las op die besigheid kan plaas. Verder moet gekyk word na alle debietlenings-ooreenkomste asook koop- en verkoop kontrakte.
Hartman het genoem dat Sanlam se finansiële raadgewers goed opgelei is om jou bate en laste verhouding te analiseer en te bepaal waar lê jou bates. Koop- en verkoopooreenkomste is nie geldig binne die familieverband nie. As jou bates egter reg bestuur word is daar maniere om dit nie-belasbaar te doen.
Hy het ter afsluiting weereens op die belangrikheid gewys om jou testament jaarliks aan te pas volgens jou spesifieke behoeftes op daardie tydstip.
Hartman het ook beleggers op die aandelebeurs gemaan om nie summier van aandele ontslae te raak soos fluktuasies in die markte plaasvind nie. Die aantal aandele wat jy het word nie minder nie, slegs hul waarde word geaffekteer. Die kans dat die mark kan verstewig is net so goed as wat daar weer ‘n insinking kan wees. Enige geld wat jy onttrek kan net teen ‘n koers gelykstaande aan die inflasiekoers belê word wat beteken dat jy na die beleggingstydperk niks beter daaraan toe is nie.