Entertainment

Groot verskeidenheid by Bosveldfees

Elana Greyling

LEPHALALE – Die Bosveldfees op Lephalale was soos gewoonlik ‘n witwarm sukses nieteenstaande die koue eerste naweek in Julie.
Die Fees het besoekers van regoor die provinsie en Gauteng getrek met talle interessanthede. ‘n Wildveiling, 4×4-baan, potjiekoskompetisie ensovoorts is aangebied. Die Sterkmankompetisie onder die waaksame oog van SA se eie sterkman, Johan Kelder van Polokwane plaasgevind. Elkeen kon sy krag en spiere vergelyk met die kampioen wat SA in 2001-2 in Kanada verteenwoordig het. Die Hondeskou het baie deelnemers gelok met ‘n Schnauser genaamd Yasmein wat die groot prys ontvang het. Die tweede prys het gegaan aan Fly Nagel (Italiaanse windhond) en Rex Trutter (Labrador). Rex was ook die aantreklikste reun. Die afdeling vir Baas & Hond is gewen deur Fiefie en mnr Booysen (Worsie). Mnr Booysen het glad nie bedreig gevoel deur die feit dathy soos Fiefie lyk nie. Hulle was egter albei dankbaar dat hulle nie ook die afdeling vir lelikste hond gewen het nie. Pam du Plessis het die moeilike taak van beoordelaar gehad.
Die Bosveldbulletjie, Ruan Claassen en die Blommetjie, Anika van Rooyen het gewys hoe mooi die resultaat van vars Bosveldlug en biltong kan wees.
Mej Bosveld en haar twee prisesse is reeds vroeër tydens ‘n gala-aand gekies en was oral te siene. Mej Bosveld 2008 is Nicole Simmenhof met Yolande Nel en Christi Verster as prinsesse.
Verskeie kunstenaars het gedurende die Fees die gehoor in die reuse biertent vermaak met as hoogtepunt die Country Legendes van Bobby Angel en Lance James.
Die Bosveld Ope is ook gehou gedurende hierdie tyd. Die wenners was as volg: Oor die vier dae was R de Lange (mans), T Claasen (Dames) en JH de Meyer (Jnr). Die Maroela trofee het gegaan aan: R Azevedo (mans), D Verster (Dames) en I Wannenburg (Jnr).
Die Fees het vanjaar meer besoekers as in die afgelope paar jaar gelok en organiseerders werk reeds hard aan Bosveldfees 2009!