Mnr en Mej Thabazimbi Landbouskou
THABAZIMBI – Die tema vir die Mnr en Mej Thabazimbi Landbouskou vanjaar is “Wille Weste”, so kry die cowboy stewels en hoede, lasso’s en geruite hemde gereed.
Die kompetisie begin reeds om 14:00 Donderdag 31 Julie by die skougronde waartydens onderhoude gevoer word met deelnemers. Vir hierdie eerste deel van die kompetisie kan deelnemers gemaklik aantrek. Die cowboy uitrustings is vir die kroningsgeleentheid wat Donderdagaand 18:00 plaasvind.
Die meisies neem in drie ouderdomsgroepe deel, naamlik 6 – 10 jaar, 11 – 15 jaar en 16 – 24 jaar. Die seuns het twee kategorieë waarin hulle kan deelneem, naamlik 6 – 15 jaar en 16 – 24 jaar.
Inskrywingsvorms is by Thabazimbi Spar of die Landbouskoukantoor beskikbaar en kan ook weer daar ingehandig word. Inskrywings is gratis en sluit op Woensdag 30 Julie.
Vir enige verdere navrae skakel Ursula Roux by 083 584 6061 of die Landbouskou-kantoor by (014) 777 1204.