Wildsbokafslag kompetisie tydens vanjaar se Willefees

THABAZIMBI – Slyp solank jou mes en rol jou moue op want die wildsbokafslag kompetisie is om die draai… Saterdag 3 Mei gaan besoekers aan die Thabazimbi Wild & Toerisme Expo die geleentheid gebied word om deel te neem aan die wildsbokafslag kompetisie wat om 15:00 op die rugby veld voor die paviljoen plaasvind.
Die wildsbokafslag kompetisie word jaarliks geborg deur Thaba Spar en die opbrengs verdien deur die veiling van die rooibokkarkasse na afloop van die kompetisie is ten bate van Helpende Hande.
Daar is twee persone per span wat die rooibok se vel moet afslag teen tyd. Spanne word met vyftien sekondes gestraf vir elke stukkie vleis wat op die vel agterbly asook vir elke keer wat die vel stukkend gesny word.
Verlede jaar se wenners, Hugo & Edwin, spog met ‘n slagtyd van 1minuut en 20,2 sekondes.  Die algehele rekord houers is steeds Hendrik en Pieter Pieterse van Lephalale met ‘n afslag tyd van 48,27 sekondes.
Alle mans en dames wat belangstel om deel te neem aan die kompetisie en enige navrae het in hierdie verband kan Hannes Coetzee, organiseerder van die kompetisie kontak by 082 576 1332.