Entertainment

E3N vermaak is tops

THABAZIMBI – Dit is nie enigeen wat ‘n plekkie op die verhoog agter die mikrofoon vir hom of haarself kan opeis nie. Iemand wat dit wel kan doen is Edrien Erasmus wat met haar groep, E3n, gehore vermaak.
Edrien het almal wat Saterdagaand haar vertoning by die KunsteGrot bygewoon het verras met haar talent en gemak op die verhoog. Die meeste van die liedjies wat sy gesing het is deur haarself of haar begeleier, Mariëtte Galjaard geskryf en getoonset.
Mariëtte, wat geen formele musiekopleiding gehad het nie, sprankel agter die klawerbord en kitaar. Die twee saam op die verhoog is iets soos ‘n kabaret in wording, asof dit spesiaal vir hierdie gehoor met woorde en gevoelens tot lewe kom.
Edrien het haar laerskoolloopbaan by Laerskool Thabazimbi voltooi. Die drama het sterk na vore getree en sy het by Pro Arte Kunsskool in Pretoria haar hoërskoolloopbaan begin. Om te sing was maar een van haar groot begeertes en dit was juis op PUK (Noordwes Universiteit) dat sy vir Mariëtte raakgeloop het. Die twee het uit die staanspoor geweet dat daar groter dinge op hulle wag en haar sangloopbaan het posgevat. Die derde lid van die groep, Douw Steyn, seun van Christa Steyn, het ook by hulle kragte ingegooi.
Edrien het sonder om te wyfel balades tot jazz en ligte kabaret tot Jacques Brell in een vertoning saamgevat. ‘n Vertoning wat jou aan die einde laat voel het “dankie tog, daar is nog oorspronklike talent in Suid-Afrika”. Op die verhoog is daar beslis baie plek vir E3n om groot naam te maak.
Gedurende Oktober kom kuier hulle weer by die KunsteGrot. Maak seker dat jy nie weer vir Edrien en haar E3n-Band misloop nie.