Fietsdief takel eienaar met hamer
THABAZIMBI – In ‘n ontstellende ondervinding by sy huis in Bloureën-straat Vrydagaand 18 April is Piet Hanekom met een van sy eie hamers toegetakel toe hy ondersoek ingestel het na sy honde se geblaf.
Ongeveer nege-uur Vrydagaand het Piet die honde hoor blaf. Hy het om die huis geloop, maar nie iets verkeerd gemerk nie. Die honde in die buitekamer het egter weer vreeslik begin blaf en toe hy weer ondersoek instel, het hy gesien dat die buitekamer se deur oopgebreek is en dat sy fiets, wat altyd in die buitekamer gebêre word, in die deur staan. Hy het die fiets teruggesit en teruggeloop na die huis, waar hy van agter af aangeval is deur die dief, wat waarskynlik iewers in die tuin weggekruip het, met ‘n hamer.
Piet se vrou, Martie, het, stom van vrees, die huis in gevlug. “Ek kon nie eers skree nie”, vertel sy. Die enigste telefoonnommer wat sy in haar skok kon onthou, was dié van haar vriendin, Emmie von Czapiewski. Sy het dit geskakel en Emmie het hulp ontbied van Deon, Emmie se man, vriende in die omgewing en ds Gert Kok. Hierna het sy die polisie probeer ontbied. Volgens Emmie het die dame by die skakelbord ontken dat daar ‘n straat soos Bloureënstraat in Thabazimbi bestaan, gelag en vae beloftes gemaak dat hulle sal ondersoek instel. Niemand is deur die aanklagkantoor uitgestuur na die huis in Bloureënstraat nie.
Een van die Thabazimbi-speurders is direk deur Piet se seun, Faan, gekontak, en die saak is op hierdie manier verder deur die polisie ondersoek. Met flinke optrede van die speurder en ander polisielede is die fiets en ‘n boor, wat ook uit Piet se huis gesteel is, nog dieselfde nag gevind, en ‘n persoon is in hegtenis geneem.
Piet, in sy sestigerjare, is dadelik na die hospitaal geneem waar hy steke in sy kop en hand gekry het. Hy het ook een gekraakte en ‘n paar gekneuse ribbes. Teen Saterdag was hy egter weer op die been.
Die aanvaller word aangehou in Thabazimbi en ‘n saak van Poging tot Moord word ondersoek.
‘n Klag oor die swak diens wat by die Polisiekantoor se aanklagkantoor Vrydagaand ontvang is, is deur Emmie von Czapiewski opgestel en voorgelê aan Thabazimbi se hooflanddros, Derek Torlage. Die stasiebevelvoerder van Thabazimbi Polisiestasie, superintendent Mantjane, het ontken dat die aanklagkantoor in gebreke gebly het om hul werk te doen, omdat die saak deur die polisie ondersoek is en die skuldige gevang is.