Boere, herwin só jul grond
DWAALBOOM – Een van die grootste uitdagings vir Bosveldboere is die herwinning van grond wat só verdig het dat sy weidingswaarde feitlik heeltemal verdwyn het. Meer as sewentig boere het Obaro Dwaalboom se Bosbenuttingsdag, gereël in samewerking met WESagri, bygewoon.
Met WESagri se Bosvark, ‘n veeldoelige bosbeheermasjien, is gedemonstreer hoe veld herwin kan word deur bome af te saag en met gif te bespuit. Daar is ook gedemonstreer hoe afgesnyde materiaal gebruik kan word in die vervaardiging van wildsvoer. Met behulp van kerwers word plantmateriaal, hoofsaaklik sekelbos en Acacia-spesies, verfyn sodat dit makliker na die meule vervoer kan word. Die fyn plantmateriaal word deur hamermeule verder verfyn, droogoonde uitgedroog, vermeng met voerkonsentraat en uiteindelik verpil. Hierna is dit ‘n gesogte produk, wat selfs uitgevoer word. Deur die gekerfde plantmateriaal te meng met voerkonsentraat (helfte van elk) in ‘n gewone sementmenger kan die boere egter hul eie wilds- of beeskos maak.
Die Bosvark kan ook gebruik word as ‘n laaigraaf deurdat die lemkop vervang word met ‘n laaigraafbak. Die Bosvark as laaigraaf en ontbosser verkoop teen R150 000 sonder BTW.
Na afloop van die inligtingsessie en demonstrasie is heerlik gekuier met koeldrank, bier, pap, wors en rolletjies.