So maak die manne van die Hervormde Kerk
THABAZIMBI – Die manne van die Hervormde gemeente Vliegepoort het Vrydagaand ‘n spogdinee by hulle verhitte kerksaal aangebied. Almal is dit eens dat die kwaliteit uitstaande was. Wat die geleentheid méér merkwaardig maak is die feit dat die manne self die inisiatief geneem, die voorbereiding van die voedsel behartig en die opruiming en opwas gedoen het. Melding kan ook daarvan gemaak word dat 240 persone die ete bygewoon het. Die ete het uit ‘n driegangmaal bestaan. As voorgereg is botterneutskorsiesop en outydse boontjiesop bedien. Die hoofgereg het bestaan uit biefstuk in sampioensous gebak, sosatie hoenderdye, soetwortels, ertjie- en rysgereg, gebakte aartappels en ‘n mengelslaai.