Entertainment

Thaba Idols deur na volgende rondte

THABAZIMBI – Thaba spog met twee Idols wat die afgelope Dinsdag in Pietersburg gekies is vir die volgende rondte. Mareli Robbertse (17) en Dewald Steyn (17), albei Gr 11 leerders van HFM, is deel van die sowat agt idols wat uit ‘n groep van ongeveer 170 deelnemers gekies is.
Mareli het “I do love you” van Le-Ann Rhimes gesing en Dewald het “Unchained melody” van Gareth Gates gesing. Uitdunne vir die eerste rondte word in Kaapstad, Port Elizabeth, Durban, Johannesburg, Bloemfontein, Pietersburg en Nelspruit gedoen.
Uit hierdie eerste rondte van 14 000 deelnemers, word 100 idols gekies vir die tweede rondte wat reeds in Julie in Johannesburg gaan plaasvind. Hierdie eerste wenners word gevlieg en vir drie tot vyf dae geakkommodeer vir die uitdunne waar 50 idols gekies word vir die derde rondte.
In die derde rondte, word die wenners van rondte twee in groepe verdeel wat elke week in ‘n studio optree. Kykers word dan die kans gegun om vir hul gunsteling idol te stem. Die idols met die meeste stemme word dan oorgedra na die volgende week, en die met die minste stemme val dan uit.
In rondte vier tree die Top 12 idols voor ‘n lewendige, skreeuende- en massiewe TV gehoor op. Elke week word die idol met die minste stemme geëlimineer tot daar net een oorbly.
Dewald en Mareli is baie opgewonde oor hierdie eerste oorwinning. Dewald het verlede jaar ook ingeskryf, maar moes as gevolg van siekte in die vierde rondte onttrek. Hou Die Kwêvoël dop vir die gereelde vorderings uitslae van hierdie twee idols uit die Bosveld.