Bromvoël aan die uitsterf
Groot kommer heers oor die drastiese afname in die aantal Bromvoël-getalle. Daar word gereken dat die maksimum aantal bromvoëls in Suid-Afrika tussen 1500 en 2000 is.
Van die redes vir hierdie spesie se radikale afname is steurings van neste, verwydering van groot bome wat gepas is vir nesmaak, vergiftiging en habitat steuring. Skietvoorvalle kom voor waar grondeienaars op hul losbrand aangesien hierdie voëls geneig is om hul eie refleksie in vensters aan te val wat daartoe lei dat vensters breek.
Die bromvoël woon in groot sosiale groepe in groot gebiede (ongeveer 100 km²) met ‘n enkele broeipaar in die groep – slegs een dominante wyfie broei. Hulle het ook spesifieke nesmaak metodes met ‘n lang inkubasie periode (40 dae) en ‘n kuiken nestyd van 85 dae. Hierdie spesie begin ook eers broei as hulle ‘n ouderdom van 4 tot 6 jaar bereik het. Bromvoëls het ‘n lae reproduksie sukses met een kuiken wat elke nege jaar volwassenheid bereik en dit maak hulle baie kwesbaar om spoedig te herstel na ‘n populasie afname.
Dr Derek Engelbrecht is besig met intensiewe studies om hierdie populasie te help herstel en vra alle grondeienaars om hom by te staan in hierdie projek. Maak ‘n aantekening van die datum en presiese plek indien jy hierdie voël gewaar. Teken ook aan hoeveel van die voëls jy gesien het, hoeveel mannetjies (met ‘n rooi gesig) en wyfies (blou merk op die keel) jy gewaar en of daar enige neste in die omgewing is. Dr Engelbrecht sal ook neste voorsien aan die wat belangstel in die projek.
Volgens hom is die bromvoël bekend vir sy diep stem en die manier waarop hulle na mekaar roep, veral vroegoggend. Hy sê ook dat hierdie geroep tot 4 km ver gehoor kan word. Dringende aandag is nodig om hierdie spesie van totale uitwissing te red en dr Engelbrecht kan gekontak word by 082 2005 277 vir enige verdere inligting of indien u inligting het om aan hom deur te gee.