Entertainment

Die sirkus is hier

THABAZIMBI – Mama Mia Sirkus is hier en daarmee saam bied hulle een van die beste vertonings vir die hele gesin. Die sirkus word tot Sondag by Thaba Park op die rugbyveld aangebied.
Die sirkus, met sy eg Suid-Amerikaanse aanslag, is tans die enigste Suid-Afrikaanse sirkus wat hierdie tipe van vermaak bied. Met die Wilkies van die toneel af, het Ricardo en Colette Dalera Costa die bul behoorlik by die horings beetgekry en hulle “Globe of Death” vertoning uitgebrei om ander sirkus artieste ook te betrek.
Met die “Globe of Death” klim hierdie egpaar elk op ‘n 125cc scrambler en jaag teen ‘n asemrowende spoed gelyktydig binne in ‘n 4,5m deursnee staalbal.
Colette, wat voordat sy Ricardo ontmoet het, by die lugdienste gewerk het, het na haar huwelik gou verveeld daarvoor geraak om net tuisteskepper te wees. Dit is op daardie stadium dat sy by Ricardo se toertjie betrokke geraak het en saam met hom die ysterbal betree het. Die twee tree ook gereeld tydens motorfietsbyeenkomste op.
Ongeveer ‘n maand gelede het hulle Mama Mia Circus op die pad gesit met ‘n splinternuwe vertoning met gesinsvermaak uit die hoogste rakke. Die vertoning begin met ‘n egte Mexsikaanse fanfare van ponjo’s en sambrero’s wat opgevolg word deur die Due Fire Acrobats. Hierdie manne uit Tanzanië gaan jou gaan verstom met hulle akrobatiese toertjies deur ringe van vuur. Dan is daar ook die contorsionist, Madamoselle Cassandra, wat haar lyf in allerhande vorms in en uit kry.
Pickels en Pepino is natuurlik deurentyd op die toneel om vir die ligte vermaak te sorg terwyl Colette haarself voorberei vir Ricardo se mesgooi kuns. Piekels het jare ondervinding in die teater as verhoog en teater bestuurder en het ondermeer vir die ou NTO en TRUK gewerk. Hy het later by die sirkus aangesluit en het reeds ‘n paar keer afgetree. Die liefde vir die sirkus roep hom telkens terug en bevind hy hom gereeld in die ring.
Die ringmeester is die begaafde Leonardo wat sy vormingsjare in die sirkus by Boswell Wilkie deurgebring het. Hy is nie alleen ‘n uitstekende ringmeester nie, maar ook ‘n uitstekende regiseur.
Maak jou gerus reg vir twee ure se opwindende vermaak deur al hierdie artieste. Daar is slegs ‘n kort verposing waartydens verversings teen die winterkoue beskikbaar sal wees.
Buiten gisteraand (Donderdagaand) se vertoning is daar vanaand ‘n vertoning om 19:00. Saterdag is daar twee vertonings naamlik 15:00 en 19:00. As u dit steeds nie kon maak nie is daar Sondagmiddag om 15:00 nog ‘n vertoning.
Bring gerus die hele gesin, hierdie is vermaak vir oud en jonk. Toegang is R30 vir ringsitplekke. Op die stalls is dit R20 per persoon (volwasse en kinders).