Sport

Thaba rugby op wenpad

Jan Engelbrecht

THABAZIMBI – Thaba het Saterdag gespeel soos tiere en vriend en vyand verras met ‘n skitterende oorwinning oor Brits se eerste span.
Brits, wat hierdie jaar eerste liga in Pretoria speel, het met Mooinooi saamgesmelt en is ‘n baie groot rugbyklub. Hulle het ook reeds ‘n handvol wedstryde meer as Thaba gespeel vir die jaar voordat die twee spanne mekaar Saterdag aangedurf het. Brits het egter sy Moses teengekom teen ‘n hoogs gemotiveerde Thaba rugbyspan. Thaba het uit die staanspoor die pap dik aangemaak en nie ‘n tree teruggestaan vir die veel groter voorspelers van Brits nie.
Die eerste span het die jaarlikse derby teen Brits met 22 punte teen 5 gewen. Thaba se agterlyn was gevaarlik en het draaie om Brits se veel groter en stadiger senters gehardloop. Die regtervleuel, Eric Zannindaba, was kwiksilwer en hy het elke keer gevaarlik gelyk as hy aan die bal gevat het. Thaba se puntemakers drieë is deur Nico Mynhardt en Desmond Tutani aangeteken en die een doelskop deur Jeremy Fernandes en twee is deur James Engelbrecht oorgesit. James slaag ook met ‘n strafskop.
Thaba se tweede span het net so indrukwekkend vertoon en Brits se derde span met 36 punte teen nul gewen. Puntemakers met die drieë was Gerrie Potgieter, Deon Schlebush, Rudi Joubert, Nico Greeff en Coetser. Jaco Schlebush behaal drie doelskoppe en ‘n strafskop.
Swartklip se eerste span het in ‘n harde wedstryd teen Brits se tweede span verloor met tien punte teen sewe. Swartklip se tweede span het met 22 punte teen drie teen Brits se O/20 span verloor.