CommunityFeatured

DA maak stem dik oor Afrikaans in skole

Die Demokratiese Alliansie sê in ‘n mediaverklaring dat die Suid-Afrikaanse konstitusie mense die reg gee tot keuse van onderrig in die Suid-Afrikaanse taal van hul voorkeur. Die wet gee beheerrade die reg om die taal van onderrig in onderskeie skole vas te stel.
In die mediaverklaring word daarop gewys dat Afrikaans ‘n gevestigde onderrigtaal in die skool en by tersiêre onderriginstansies is. Die voorkeur en beskerming van Afrikaans is nie ‘n “Afrikaans-alleenlik” stryd wat gevoer word nie, maar dit is een wat deur alle Suid-Afrikaners opgeneem moet word wat konstitusionalisme wil beskerm.
Waar Afrikaansmedium skole onvoldoende getalle Afrikaanse studente trek, behoort hulle dit nie te oorweeg om ‘n ander taal as medium van onderrig te gebruik nie. Daar is alternatiewe toegangbare Engelse skole beskikbaar en Engelsmedium moet dus nie in Afrikaansmedium skole ingebring word as dit teen die wil van die betrokke skool se beheerraad is nie.
Indien ‘n Afrikaansmedium skool sy volle kapasiteit bereik het, en Engelsmedium alternatiewe nie beskikbaar of toegangbaar is nie, moet ‘n beperkte parallel medium Engelse stroom geïmplementeer word op voorwaarde dat die Onderwys Departement gebind word deur ‘n wettige afdwingbare kontrak om die nodige infrastruktuur (boeke, klaskamerspasie, onderwysers) te voorsien. Die Onderwys Departement moet ook verseker dat Afrikaans gehandhaaf word as ‘n afsonderlike stroom en dat die gebrek aan hulpbronne nie lei tot die geleidelike bevordering van Engels ten koste van Afrikaans nie.
Waar moontlik moet hierdie ooreenkomste wettig gemaak word deur ‘n hof, sodat indien die departement versuim om die ooreenkoms te eerbiedig, hulle hulself aan minagting van die hof skuldig sal maak.