Dozi sê Siyaya – Kom ons gaan
Henk, die jongste kind van Theuns en Susan Opperman, is gebore in Hluhluwe, waar hy vlot Zoeloe leer praat het by sy Zoeloe maatjies op die plaas. Sy ouers verhuis na ‘n plaas naby Standerton, toe hy ses jaar oud is. Hy gaan op Leslie skool en voltooi sy skoolloopbaan op Evander. Op skool tree hy alreeds by verskeie geleenthede op, want daar was nog altyd geen ander loopbaan vir Henk as om musiek te maak nie.
Nadat hy sy diensplig voltooi het, studeer hy grafiese ontwerp aan die Technikon Pretoria. Dit is hier waar hy die bynaam van Dozi kry, omdat hy baie lief was vir slaap. Hy sluit daarna aan by die polisie orkes onder leiding van Hansie Roodt, en na jare se harde swoeg en sweet, word sy eerste album uitgereik in 1999.
Hierdie album, “Mercy” is ‘n geestelike Zoeloe album en in 2000 word sy eerste Afrikaanse album “Op Aanvraag” uitgereik. Dit is ‘n blits verkoper en bereik dubbel platinum status. Die volgende album, met die naam van
“Storm op die Horison” word vrygestel in Desember 2001 en het ook reeds platinum status bereik. In Januarie 2003, word “Siyaya – Ons Gaan” uitgereik. Die album bereik goue status binne een maand vanaf uitreiking.
Dozi het platinum toekennings vir beide “Storm op die Horison” en “Siyaya” ontvang by Aardklop 2003 op Potchefstroom.
In Desember 2003 is Dozi se “Rockin’ the world” uitgereik. Die album is vrygestel op die aandrang van ondersteuners, wie altyd na Dozi gaan luister het, by verskeie restaurante waar hy opgetree het. Dit is duidelik dat Dozi se vertolking van die reeds bekende liedjies op hierdie album baie gewild is, want in minder as drie weke bereik hierdie album goue status.
‘n Nuwe Afrikaanse album word ‘n bietjie later vanjaar uitgereik en moontlik nog ‘n verrassing of twee, wie weet?
Dozi wat vir ‘n lang ruk een van Anton Goosen se geswore vyande in die sogenaamde backtrack-kraal was, tree deesdae op saam met sy eie live band, wat sy reeds gewilde optredes ‘n nuwe en unieke klank gee. Dié groep bestaan uit Stef Kruger op dromme, Ricus Nel op klawerbord, banjo en konsertina, Theo Klassen op baskitaar en Henning Joubert op kitaar. Dozi se band het hom reeds vergesel op sy Kaapse toer gedurende Desember en hulle gaan nog ver paaie saam met hom loop.