Agricultural

GRASPERKRUSPES – VRETEND AAN ‘T VERNIEL

Grasperkruspes dien tans kou-kou aan grasperke ‘n knou toe. Insekkenners sê dat afgesien van die kusstreke, is meeste dele van die land kwesbaar.
“Die vaal, grysbruin motte met vlerke wat plat oor hul agterlyf gevou word en veral saans op grasperke gesien word wanneer iemand met ‘n flitslig oor die gras loop en hulle steur, is ‘n teken dat grasperkruspes reeds teenwoordig is,” vertel Bill Smit, tegniese bestuurder van Efekto, wat vanjaar hul 30ste bestaansjaar in die plaagbeheer- en tuinsorgmark herdenk.

“Grasperkruspes het ‘n lewenssiklus van eiers/larwes(ruspes)/ papies/motte (wat eiers lê).  Die larwes is die swak skakel in die ketting, waar beheer toegepas moet word, aangesien insekdoders geen noemenswaardige uitwerking op die papies, motte of eiers het nie.”

“Die larwes is gladde, haarlose wurms wat bedags op die grondoppervlakte tussen die gras skuil en dan hoofsaaklik saans die gras vreet. Omdat die gras nooit kans kry om behoorlik te herstel nie, kom dooie kolle gou oral voor.  Hierdie kolle dui wel aan dat die groei van die gras beskadig is, maar met die regte behandeling sal dit weer herstel,” sê hy.

Volgens Smit is die beste manier om vas te stel of ruspes teenwoordig is, om vroegaand ‘n nat handdoek op die grasperk te plaas. Waar grasperkruspes teenwoordig is, sal van hulle die volgende oggend aan die onderkant van die handdoek wees.

“Indien daar minder as vyf ruspes is, is die probleem gering en sal dit deur natuurlike vyande, soos voëls, beheer word.”

“So nie, is daar verskeie middels wat ingespan kan word.  Bespuiting met ‘n natuurlike kontak-maaggif soos ECO Insekdoder of met sintetiese middels soos Karbaspray, Garden Ripcord, Dursban 75WG of Chlorpirifos, dood ruspes wat daarmee in aanraking kom, en dié wat gras vreet wat daarmee bespuit was.”

Die beste tyd om te spuit is laatmiddag, wanneer ruspes van onder uit
die grasmat nader aan die oppervlakte beweeg om die gras te begin vreet.

Afhangende van toestande, neem dit sowat drie weke voordat die eiers uitbroei. Oorvleueling van stadia kan egter terselfdertyd in ‘n grasperk teenwoordig wees.