FeaturedGeneralTravel

Powerade Marakele Marathon: Grootse spanpoging om Thabazimbi te bemark

Die Thabazimbi toerisme organisasie, Discover Thabazimbi, het tydens die afgelope Powerade Marakele Marathon op 5 Maart, ’n spanpoging in samewerking met Waterberg Toerisme aangewend om Thabazimbi as toeristebestemming te bemark.

Die toerismestalletjie is reeds van 5 uur die oggend beman, gereed om die besoekers met inligting by te staan.

Die sowat 700 inskrywings van atlete wat aan die individuele wedlope deelgeneem het, het hoofsaaklik atlete van buite Thabazimbi verteenwoordig, veral in die half- en vollengte marathons. Heelwat familielede en vriende het die deelnemers vergesel wat die marathon die ideale geleentheid gemaak het om mense, wat reeds aan die natuurskoon van die omgewing en die Waterberge blootgestel is, meer aangaande die toerisme aspek toe te lig.

Die 5km Pretloop en 10km wedloop lok ook baie plaaslike deelnemers en kon plaaslike deelnemers en hul ondersteuners meer inwin oor wat hul eie omgewing in terme van ontspanning bied.

Op die foto is van links Judi Groenewald (Waterberg Tourism), Danie Naudé van Thabazimbi en Arna Hatting (Discover Thabazimbi) by die toerisme stalletjies tydens die afgelope Powerade Marakele Marathon.

Ander lede van die toerismevereniging asook besighede wat baat uit toerisme vind is ook genooi om hul eie stalletjies te beman, hetsy met inligting of produkte. ’n Paar besighede het wel gereageer, daar was egter ’n gebrek aan belangstelling vanaf gastehuise en Lodges wat ’n goeie geleentheid gehad het om toerisme in die Thabazimbi omgewing te bevorder deur hul akkommodasie bekend te stel deur hul vingers laat glip het.

Volgens Judi Groenewald, Uitvoerende hoof van Waterberg Toerisme, het hulle heelwat navrae gehad van besoekers wat meer inligting aangaande toerisme aantreklikhede wou hê. Sy sê dat hierdie navrae hoofsaaklik vanaf Gauteng was, nie net alleen van atlete wat meer oor die marathon wou uitvind nie, maar ook van nie-atlete wat op hul reklame gereageer het. Die 5km Pretloop en 10km wedloop het duidelik hiermee te doen gehad.

Mense wou ook meer uitvind omtrent Thabazimbi en die Waterberg distrik, Sy glo dat hierdie reklame sal sorg dat die marathon nog meer mense gaan trek om deel te neem asook om die area bietjie te verken.

Die toerisme stalletjie by die marathon het heelwat navrae aangaande die plaaslike toerismeverenigings, wie hulle is en wat hulle doen, hanteer.

Op hierdie manier kon hulle inligting oor die Waterberg distrik deel asook om die plaaslike gemeenskap beter toe te lig aangaande wat hulle doen om toerisme te bemark en blootstelling daaraan te gee.

’n Marakele Marathon “Fun Day” het deel van die bemarking uitgemaak in ’n poging om plaaslike gemeenskappe, veral plaaslike skoolgroepe te akkommodeer. Vanjaar het Pick ’n Pay maaltye en koeldranke aan verskeie skoolkinders wat deel uitgemaak het van hierdie Pretdag in die buitelug, uitgedeel.

Total Thabazimbi het die inskrywingsfooi van deelnemers van Thabang Children’s Home asook ’n skool in die Rooiberg area vir die Pretloop geborg. Die deelnemers het elk ook ’n sakkie met nuttige goedere ontvang.

Mountain Eagle Spur het ook Katryntjies Gesigkuns en ander aktiwiteite vir die kleintjies geborg.

Ander uitstallers het ingesluit “Classy Devine Spa” wat voet en lyfmasserings aangebied het, Pick ’n Pay het kos asook alkohol verversings verskaf terwyl Pondok daar was met ’n koffiestalletjie. Dada’s Samoosas en Native Café & Curios het ook bygedra tot hierdie aanbiedings.

Hoërskool Frikkie Meyer wat tydens die Marathon gereeld deur hul atlete verteenwoordig word, was ook baie sigbaar tydens die Marathon.

Die toerisme uitstallings is deur Nicolette Coetzee van Discover Thabazimbi georganiseer en gekoördineer. Verskeie pamflette en inligting aangaande toerisme aktiwiteite was ook beskikbaar.

Plaaslike besighede het gelukkige trekking pryse aangebied wat groot byval by die deelnemers gevind het. Dit het ondermeer ’n wegbreek geleentheid na een van die plaaslike Lodges ingesluit.

Judi Groenewald het aan Kwêvoël genoem dat dit vir haar as verteenwoordiger van Waterberg Toerisme absoluut die moeite werd was om die oggend daar te wees.

“Nie net vir die suksesvolle promosiewerk nie, maar ook om deel van die gemeenskap en die wonderlike atmosfeer van die marathon te beleef.”

“Die kos was uitstekend, die mense fantasties vriendelik en die ligging te pragtig vir woorde. Ek glo al hierdie faktore het fantasties saamgewerk om die wonder-ryke Waterberg perfek ten toon te stel vir besoekers en die media.”

Sy het afgesluit deur te sê dat Waterberg Toerisme glo dat die jaarlikse instelling van die toerisme uitstalling tydens die marathon, die weg gaan baan vir meer besighede wat by toerisme betrokke is om ook deel hiervan te word en dat dit ander georganiseerde geleenthede sal skep om mense na die Waterberg te lok.

Een en almal het hulle dank uitgespreek teenoor SANParke wat steeds bereid is om besoekers aan die Thabazimbi bosveld en die Waterberg geleentheid te bied vir ’n ervaring aan die “Wild Side”. Dit sluit in die veldwagters wat ’n wakende ogie oor die veiligheid van deelnemers hou asook die ander logistieke wat die aanbieding van hierdie wedloop in die Groot Vyf Park moontlik maak.

Laaste maar nie die minste is die insette deur die Noordelike streek Ere Veldwagters, en veral Dave Webster en sy span op wie se skouers die suksesvolle aanbieding van die 2022 Powerade Marakele Marathon gerus het. Hulle werk as vrywilligers tot voordeel van die Marakele Nasionale Park en lewer ’n groot bydrae tot die bevordering van Toerisme in die Thabazimbi omgewing.