CommunityFeatured

Ysterberg Voortrekkers vier 90ste bestaansjaar met deurnagpartytjie

Die Ysterberg Veldkornetskap, die plaaslike tak van die Voortrekker Kommando, het Vrydagaand 22 Oktober 2021 die organisasie se 90ste bestaansjaar gevier met ’n deurnagpartytjie wat in die KunsteGrot in Thabazimbi aangebied is.

Die Voortrekkerbeweging is 90 jaar gelede op 30 September in Bloemfontein gestig met ’n handjie vol mense. Vandag is die Voortrekkers die grootste Afrikaanse jeugbeweging met ’n dinamiese voetspoor van Otjiwarongo tot Kaapstad en van Richardsbaai tot Upington. Oor nege dekades heen het die Voortrekkers diep spore in die Afrikaanse taal, kultuur en erfenis getrap.

Elke Voortrekker Kommando is geleentheid gebied om hierdie 90ste verjaarsdag op hul eie manier te vier.

Heel gepas, met Covid-19 inperking steeds van krag, het Ysterberg Veldkornetskap besluit op ’n Neon90-partytjie wat die aand reeds om 19:00 met ’n maskerparade afgeskop het. Die KunsteGrot is vir die partytjie in die donker gehul met swart draperings teen die mure en voor deure met slegs ’n paar ultraviolet neonligte vir beligting.

Die effek was dramaties met die talle veelkleurige neonversiersels wat regdeur die teater aan die swart draperings vasgeheg is.

Die Neonmaskerparade het vir heelwat pret gesorg toe die Voortrekkers voor die beoordelaars hul gesigmaskers moes afwys. Hierna het elke Voortrekker geleentheid gehad om hul eie hamburger te bou en vanaf 21:00 is daar tot middernag allerhande speletjies gespeel. Hierna het die middernagflieks begin wys en die kinders het die een na die ander aan die slaap geraak.

Saterdagoggend sesuur is almal wakker gemaak met koffie en Milo met beskuit en koekies waarna almal moes help opruim, soos na enige ander kamp. Die opwindende deurnagervaring sal lank onthou word.

Die Covid-19 inperking het die gereelde Voortrekkerbyeenkomste kwaai in die wiele gery. Weens die feit dat die inperking-bepalings beweging en kontak vir so lank verbied het, kon die gereelde byeenkomste nie meer gehou word nie en moes lede talle projekte met die hulp van hul ouers tuis voltooi.

Dit het tot gevolg gehad dat belangstelling begin taan het en die tragiese feit dat sommige ouers hul werk verloor het, het Ysterberg gedurende die tydperk sowat 20 lede verloor.

Gedurende hierdie tyd is daar meer op plaaslike en nasionale projekte gekonsentreer om die lede besig te hou. So het Ysterberg vir hulle winterprojek die Sop-in-’n-bottelprojek aangepak. Met die projek is 90 sopbottels met droë sopbestanddele gevul en onder vier behoeftige organisasies versprei.

Verder het hulle daarin geslaag om 90kg plastiekproppies, wat deel vorm van ’n rolstoelprojek, bymekaar te maak. Ysterberg het hulle proppies aan Rustenburg Magalies-oord Kommando geskenk om hulle proppies aan te vul.

Nog ’n hoogtepunt was die Kommando Kamp wat op Klipbokkie in die Kransberg gehou is. Tydens die kamp is heelwat projekte aangepak terwyl almal die vars en skoon berglug en die Klipbokkie staproete kon geniet.

Die Ysterberg Voortrekkers is tans besig met hul Anglo-Boereoorlog kenteken. As deel hiervan was daar ’n beplande besoek aan die Voortrekker Monument. Die uitstappie sal dalk gekanselleer moet word weens vervoerprobleme.

Ysterberg Veldkornetskap sluit die jaar op 24 November af met ’n toekenningsaand en begin hul 2022 aktiwiteite op 12 Januarie met ’n prettige Waatlemoenfees.

Die Voortrekkers is ’n nie-winsgewende kultuurorganisasie waar vrywillige ouers/volwassenes hul vryetyd gebruik om die gemeenskap se kinders te leer aangaande hul eie kultuur en geskiedenis deur uitstappies te reël, kentekens te doen en ook pret te hê. Dit verg betrokkenheid, omgee, en diensbaarheid in ons plaaslike gemeenskappe om hulle voor te berei as die leiers van more. Dis sente omdraai, moue oprol, vasbyt en harde werk. Die beloning is pret, kameraadskap en avontuur. Ouer-betrokkenheid is hier van kardinale belang. Vir meer inligting besoek hulle webwerf: www.voortrekkers.co.za

Indien kinders, hul ouers of ander volwassenes belangstel om deel van die organisasie te word, kontak gerus vir Karin Naudé by 083 996 3237 of stuur e-pos aan: kp.naude@gmail.com