Robbie Wessels treffer by Plaasjapie
Robbie Wessels, bekende Afrikaanse sanger en akteur, het Vrydagaand 29 Oktober by Plaasjapie Restaurant in Thabazimbi opgetree en weereens bewys dat hy steeds as Afrikaanse vermaaklikheidskunstenaars sy gehoor kan vasvang.
Natuurlik weet almal dat daar net een persoon is wat die Leeuloop soos Robbie Wessels kan doen en dit is Robbie Wessels. Dit kom reeds vanaf 2005 toe hy deur Huisgenoot as die Beste Nuweling in die Afrikaanse Musiekbedryf aangewys is, gevolg in 2006 toe sy liedjie Leeuloop ook deur Huisgenoot as die Liedjie van die Jaar aangewys is.
Die volgende jaar het Robbie verder voortgestoom met die vrystelling van die film Poena is Koning in 2007 waarin Robbie saam met Ben Kruger die rolle vertolk het van twee skoolseuns wat besluit het dat hulle nie hul skoolloopbane as virgins wil afsluit nie.
In 2013 volg 100 meter Leeuloop met Diony Kempen en Robbie Wessels as regisseurs. Die draaiboek is deur Robbie se broer, Hamilton Wessels geskryf.
Dit was duidelik dat Robbie ’n besige man op die verhoog is. Soos hy self gesê het, is hy nie meer so fiks as wat hy was toe die Leeuloop Suid-Afrika oorval het nie, hy moet nou eers tussenin so ’n bietjie asemskep. Nieteenstaande die asemskep het hy gesweet in die Thabazimbi hitte op die nuwe buiteverhoog by Plaasjapie.
Die toevoeging van die buiteverhoog en die gradsdaklapa, wat as alternatiewe kroeg dien, is ’n welkome toevoeging tot die restaurant en meer as verdubbel die beskikbare kuierplek buitekant.
Hamburgers en worsbroodjies was op bestelling beskikbaar en het die kombuis goed besig gehou.
Besoek gerus Plaasjapie restaurant as jy saam met jou gesin en vriende wil kuier. Hulle is ook ’n unieke braaivleis restaurant waar jy jou eie vleis kies en hulle dit vir jou volgens jou smaak braai. Dan is daar ook ’n verskeidenheid van braaibroodjies, slaai, aartappelskyfies en pap en sous wat as bykos gekies kan word.
Vir die nie so honger nie is daar ook ’n verskeidenheid van Pizza’s om van te kies.