Plaasjapie: Adam Tas deel Braaidag met Tertius

Groot kuier lê voor die deur met Adam Tas en Tertius wat vir die vermaak gaan sorg tydens Braaidag-vieringe op Vrydag 24 September by Die Plaasjapie Restaurant op Thabazimbi. Toevallig val die Nasionale Braaidag jaarliks saam op dieselfde dag as die sogenaamde erfenisdag en is dus ’n amptelike vakansiedag.

Braaivleisvure brand altyd by Die Plaasjapie waar jy jou vleis kies en hulle braai dit volgens jou voorskrifte. Plaasjapie het reeds bekendheid verwerf met sy spyskaart wat hoofsaaklik uit braaivleis bestaan met ’n keuse van smullekker braaibroodjies, aartappelskyfies of pap en sous om van te kies.

Daar is dus geen beter plek om Braaidag saam met jou vriende en familie as gesin te vier as by Die Plaasjapie nie. Vermaak begin reeds vroeg met ’n springkasteel vir die kinders en lekker kuier terwyl ligte verversings soos pizzas en ’n drankie of wat deur die grootmense geniet word in afwagting vir die braaigereg.

Vanaf 14:00 die middag sal Tertius vir lekker gatskop musiek uit sy Country Rock versameling sorg. Trek gerus die dansskoene aan om lekker op die dansvloer te langarm so tussen die kuiery deur. Hy het juis Vrydag 10 September sy debuut in Die Plaasjapie gemaak en bewys dat dit die enigste plaaslike kuierplek is waar daar behoorlik ge-‘langarm’ kan word. Met sy musiek is dit feitlik onmoontlik om nie iemand saam met jou na die dansvloer te sleep nie, soos Kwêvoël terdeë kan getuig.

Tertius het intussen na die Thabazimbi distrik verhuis en woon saam met sy gesin op Leeupoort. Met die onnodige streng inperkingbepalings in Suid-Afrika is dit steeds die restaurante en kunstenaars wat die ergste hieronder ly. Met familiebande reeds in die Thabazimbi distrik gevestig, het Tertius werk in die omgewing aanvaar en sit nou sy musiekloopbaan van nuuts af vanuit Thabazimbi voort. Met ou treffers soos Bless Bridges se Jodel-liedjie (met erkenning aan oorspronklike kunstenaars), Highway to your Heart, ’n paar Elvis nommertjies en Ver in die Ou Kalahari het hy gou die mense aan die dans gekry.

Adam Tas het geen bekendstelling nodig nie en het reeds voorheen tydens die Thabazimbi Wildsfees/Ekspo hier opgetree. Sy vertoning skop om 19:00 af en toegang van R100 per persoon is betaalbaar vir volwassenes en hoërskoolleerlinge. Besprekings kan gedoen word by Marily by 072 368 3525.

Maak sommer van hulle Braaidag Spesiale aanbod gebruik en bestel ’n 500g T-Been en skyfies vir slegs R95,00.

Klik hier vir meer besonderhede