Vermaaklikheidsvure brand hoog by Plaasjapie Restaurant
Met Jay se optrede by Plaasjapie Restaurant nog vars in die geheue, is dit al weer tyd vir die volgende kunstenaar om gaste te vermaak.
Vrydagaand 10 September gaan die sanger Tertius Swanepoel sorg vir ’n aand van uitstekende vermaak as hy met sy kitaar die verhoog oorneem. Tertius is nie heeltemal onbekend in die Thabazimbi omgewing nie en het al voorheen by Die Watergat en Koedoeskop se Koöperasiekroeg opgetree.
Tertius is ’n boorling van die Wesrand waar hy in Krugersdorp grootgeword het en hy en sy gesin hulle ook gevestig het. Sy sangtalent het reeds op ’n vroeë ouderdom na vore getree toe hy as Graad 6 leerling aan Laerskool Ebenhaeser vir die Wesrand se Kinderkoor gekies is.
Volgens Tertius was sy lewenspassie musiek vandat hy oud genoeg was om te sing. Sedert hy op sy eie begin optree het, het hy getoon dat hy ’n passievolle kunstenaar is wat sy gehoor op ’n reis deur ’n musikale wêreld neem waar vryheid, vreugde en hartseer mekaar balanseer. Tertius glo in die towerkuns van musiek, waar goeie musiek die wêreld kan verander.
Tydens hierdie reis het hy in die loop van jare verskeie liedjies geskryf en getoonset. Drie jaar gelede het sy debuutalbum, ‘Padkaart na my Hart’, die lig gesien met twaalf oorspronklike liedjies daarop. Sy liedjie Strawberry was gedurende 2018 Nommer 1 op Treffers Top 30 en tans is sy Altyd in my Hart ook besig om sy plek op die Bosveld Stereo Treffers te verdien.
Sy nuutste enkelsnit, ’n Land met Vrede, is gedurende Julie vanjaar uitgereik. Tertius dra hierdie lied na aan sy hart en sê dat hy die lied vir al die mense in ons land geskryf het om vrede na ta streef.
Die vertoning begin om 18:00 en toegang is gratis.
So van vure gepraat. Plaasjapie Restaurant is by uitstek ’n braai-restaurant waar jy jou vleis kies en dit met smaak vir jou gebraai word. Dan is daar boonop die keuse van bykosse uit die lekkerste braaibroodjies, skyfies en slaai of pap en sous.
Kom kuier saam met vriende en familie by die kroeg waar hulle ook oor ’n groot verskeidenheid van wyne beskik of kom sit aan en geniet jou maaltyd in ’n gesellige atmosfeer.
Sondag 12 September het hulle weer hulle buffet-middagete waar heerlike beesstert, varkboud, stampmielies, gebakte aartappels, roomboontjies en pampoenkoekies op die spyskaart is. Voeg ook hierby slaai en ’n nagereg. Teen R150 vir volwassenes en hoërskoolleerlinge sal jy nie maklik beter kry nie. Laerskoolkinders betaal R75 vir die ete.
Bespreek nou by Marily by 072 368 3525 om jou plek te verseker.
Die Springbokke vat Sondag ook die Wallabies van Australië aan in die eerste van twee kragmetings in die 2021 Rugby Kampioenskap-reeks wat om 12:05 afskop. Sorg dat jy vroeg genoeg by Plaasjapie inklok om die hele wedstryd te sien.