SAA Vlieëniers se vlerke geknip
’n Voormalige vlieënier van SAA (Suid-Afrikaanse Lugdiens) het ’n hartroerende brief aan die media gestuur nadat hy na 26 jaar diens en sestien maande sedert hy sy laaste salaris ontvang het, saam met verskeie ander vlieëniers en ander lugbemanning kennisgewing ontvang het dat hulle dienste nie langer benodig word nie en dat hulle ontslaan is.
Hy noem egter dat die teleurstelling wat hy ervaar oorskadu word deur die wonderlike vliegtuie waarvan hy die voorreg gehad het om te kon vlieg in die wye wêreld waarin die SAA hom toegelaat het.
Hy spreek sy hart uit teenoor die verlies wat hy ervaar van die talle vriendskappe en kameraadskap tussen die SAA vlieëniers waarna hy verwys as ’n spesiale bond van broeders en susters, nie almal persoonlike huisvriende nie, maar mense wat hy ter enige tyd by sy huis sal innooi, elkeen met sy eie lugvaartstorie waaruit geleer kan word.
Elke vlug het sy storie gehad, of dit nou net ’n binnelandse vlug was as medevlieënier of oorsee na Hongkong, New York, Frankfort of Londen, is vriendskappe oor landsgrense en kontinente gevorm wat elke vlug in ’n avontuur omskep het.
Vir baie van sy kollegas beteken hierdie besluit van die SAA die einde van hulle vliegloopbane, maar daar gaan tog diegene wees wat een of ander tyd weer hulle weg sal terugvind onder baie ander omstandighede. Sy raad is om nie moed op te gee nie, maar steeds vas te hou aan hulle passie.
Vir JZ, Dudu en hul makkers met hul toksiese mengsel van vergryping en onbevoegdheid wat daarin geslaag het om hierdie eens trotse 87-jarige lugdiens van wêreldgehalte te vernietig, het hy gesê dat hulle vervul behoor te wees met ’n skuldgevoel, maar soos die grootste deel van Suid-Afrika uitgevind het, het hulle geen skaamte vir dit wat hulle gedoen het nie. Hulle het slegs hulself verryk en ’n spoor van vernietiging nagelaat waarin die lewens en toekoms van duisende eerlike en getroue werkers vernietig is.
Aan diegene wat oorgebly het en op wie se skouers dit nou rus om die ryk erfenis verder te dra, wens hy dat hulle daarin kan slaag om die doemprofete verkeerd te bewys en dat hulle met trots die vlag veilig sal dra.
Geteken: Afgetrede Senior Kaptein Phil Parson.