Grondbesetters verlaat eiendom
’n Voorval van onwettige grondbesetting van ’n plot wat deel uitmaak van die Spitskop kleinhoewes is afgeweer nadat die SAPD, wat bewus was van die aksie, aanvanklik gesê het dat die eienaar van die eiendom moet self binne 24 uur ’n klag by die polisie indien voordat hulle aksie kan neem.
Die grond is Vrydag 2 Julie 2021 deur vermoedelik EFF ondersteuners beset en die Matlabas Plaaswag is hiervan in kennis gestel. Hulle het die voorval by SAPD aanklagkantoor Thabazimbi aangemeld asook by die bevelvoerders van Thabazimbi SAPD, VISPOL en het ook die SAPD Waterberg-streek gekontak en oor die insident ingelig.
Die SAPD het dadelik die nodige spanne geaktiveer. Die eiendom is besoek en op grond van Covid regulasies wat oortree is, die besetters beveel om die eiendom te verlaat.
’n Besoek later deur een van Matlabas Plaaswag lede het bevestig dat al die mense weg is.
Daar word vermoed dat hierdie mense weer gaan poog om eiendom onwettig te betree in ’n poging om dit te beset. Die SAPD het die versoek gerig dat indien eienaars sodanige besetting waarneem, om die SAPD onmiddellik daarvan in kennis te stel.
Matlabas Plaaswag het al hul lede versoek om vir die komende weke aktief patrollies te ry en dadelik te rapporteer as hulle verdagte saamtrekke of vreemde groepe op eiendomme sien.
Vir meer inligting aangaande die Matlabas Plaaswag, kan hulle gekontak word by admin@matlabasvf.co.za.