ATKV Fliekoggend by Bosveld Oord
Die inwoners van Bosveld Oord is Dinsdagoggend getrakteer met ’n filmvertoning wat deur die Thabazimbi tak van die ATKV gereël is.
Die Covid-19 inperking het inwoners se aktiwiteite vir meer as ’n jaar gestrem en is hulle geleentheid gebied om ’n bietjie agteroor te sit terwyl hulle verversings en ’n koppie koffie of tee kon geniet.
Die SAVF dames het ingespring en die verversings bedien. Daar was meer as genoeg en kon die seniors elkeen ook ’n bordjie vol eetgoed na die vertoning huis-toe vat.
Die fliek wat vertoon is was die bekroonde Afrikaanse film ‘Faan se Trein’ met Willie Esterhuizen wat die rol van die ‘stadige’ Faan uitmuntend vertolk het. Saam met Esterhuizen was daar ’n hele paar van die ouer Afrikaanse akteurs wat nou nie meer saam met ons is nie.
Alhoewel daar lekker gelag is, is daar ook soms ’n traan gepik in hierdie hartroerende verhaal van Faan wat nooit grootgeword het nie, maar steeds sy droom uitgeleef het om sy trein uiteindelik te kry.

Daar word beplan om, soos dinge weer begin normaliseer en inperking beperkings verlig word, weer met die Flieks by die KunsteGrot te begin. Daar is heelwat goeie Afrikaanse flieks en Golden Oldies wat gereed lê om by die KunsteGrot op die groot skerm vertoon te word.
Vir eers word daar beplan om binnekort weer so ’n fliekoggend by Bosveld Oord vir die seniors aan te bied. Afrikaanse flieks wat vir hulle lê en wag is ondermeer die ‘Spook van Uniondale’, ‘Kampeerterrein’ en nog ’n paar romantiese tranetrekkers.
Alle reëls soos die handhawing van sosiale afstande word streng gevolg en sodra daar besluit word om die Fliekaande weer terug te bring kan die publiek verseker wees dat al die voorskrifte duidelik gevolg word. Die probleem is meestal om 50 mense bymekaar te kry om hierdie briljante poging te steun.
Met die KunsteGrot se groots skerm en goeie klank is hierdie flieks voorwaar ’n totale ander belewenis as wanneer dit op ’n gewone TV-stel gewys word. Dan is daar natuurlik die bonus dat jy ’n piekniekmandjie met te ete en drinke kan pak en gesellig saam met vriende en familie kan kuier terwyl julle saam die fliek geniet.