CommunityFeatured

Geliefde Herderspaar verlaat die Bosveld

Een van die Thabazimbi Bosveld se geliefde herderspare, ds Jannie en Marietjie du Plessis, het verhuis en woon nou by hulle kinders, Jan-Abraham en Melissa en hul gesin in Rustenburg.

Ds Jannie is 36 jaar gelede as leraar van die NG Kerk Dwaalboom beroep. Hier het hy en Marietjie saam met hulle gesin in die gemeenskap gegroei. As leraar van die NG Gemeente Dwaalboom was hy ook leraar in kombinasie met Northam terwyl Marietjie as onderwyser verbonde aan Laerskool Dwaalboom was.

Na 18 jaar as leraar van die Dwaalboom gemeente het hy geëmeriteer en het die gesin hulle op Thabazimbi kom vestig.

Van stilsit was daad geen sprake nie en ds Jannie was betrokke as aflospredikant in die Ring asook by die bediening van bejaardes op Northam. Boonop het hy sy dienste vir die SAVF op Thabazimbi aangebied en was hy vir etlike jare die plaaslike voorsitter van hierdie liefdadigheidsorganisasie.

Nadat hulle na Thabazimbi verhuis het, was Marietjie eers as onderwyser by Bosveld Akademie betrokke en daarna voltyds as onderwyseres in diens by Laerskool Thabazimbi.

2021_Maart_23_ds_Jannie_foto_1_Familie
Op die foto is van links: Chrisna, Marietjie, Jan Abraham en Melissa met hul seuntjie Janco, ds Jannie, Herma, Marlize en Francois.

Herma, hul tweede oudste dogter, was ook vir 13 jaar verbonde as onderwyseres by Laerskool Thabazimbi. Tans is sy onderwyser by Laerskool Hennopspark in Centurion.

Die jongste dogter, Marlize, was vir talle jare, voordat Kwêvoël sy deure as drukkery en gedrukte koerant moes sluit, Kwêvoël se ontvangsdame by die koerantkantore en drukkery. Sy en haar man, Francois Steyn woon deesdae in Steelpoort.

Beide ds Jannie en Marietjie was lank ook by die kategese op Thabazimbi betrokke en ds Jannie was ook vir lank deel van hospitaalbediening in Thabazimbi.

Hulle dra dan ook hulle dank oor aan die Thabazimbi gemeente en gemeenskap vir die liefde en ondersteuning in die loop van die jare, veral tydens die afsterwe van hul dogter Chrisna op 18 Mei 2020.

Die gemeenskap wens ds Jannie en Marietjie ’n rustige verblyf toe waar hulle in ’n woonstel by hulle kinders se huis in Protea Park in Rustenburg gaan woon.

Protea Park moet maar kennis neem dat hulle hier te doen gaan kry met ’n egpaar wat nie net eenvoudig gaan terugsit nie, maar steeds aktief in hul nuwe gemeenskap sal wees.