FeaturedSport

Reën demp nie HFM Gholfdag nie

Hoërskool Frikkie Meyer op Thabazimbi het Saterdag 21 November hul jaarlikse 4-Bal Gholfdag by  die Thabazimbi Gholfklub aangebied. Die Gholfdag bied ’n groot bydrae tot die skool se skoolfonds.

Wat begin het as ’n nat reënerige dag het gou omgeswaai na ’n lieflike bewolkte dag wat die temperature op die gholfbaan in toom gehou het. Twintig spanne het vir die 4-Bal ingeskryf en kompetisie was redelik taai. Die nat weer het die spanne nie afgesit om af te slaan nie en spel het goed verloop.

In hierdie Covid-19 jaar word elke bydrae kosbaar gereken en die skool bedank dan ook elke borg wat ’n bydrae gelewer het.

Pick n Pay Thabazimbi het die middagete geborg en hulle word spesiaal bedank vir die heerlike kos wat voorgesit is. Die personeel van HFM word ook hartlik bedank vir hulle aandeel tot die dag se sukses.

Foto’s onder: Aksie op die gholfbaan – HFM se span besoek die watergat wat deur HFM personeel en die personeel van Body 20 beman is.

Foto’s onder: Gholfspanne wat pryse losgeslaan het tydens die HFM Jaarlikse Gholfdag saam met die hoof van HFM, Colin Campbell.