Beroep op regering om ekonomie oop te maak
Die beroep deur individue en besighede dat die ekonomie oopgemaak moet word wys dat die regering ’n skuif in denke benodig om groei in die Suid-Afrikaanse ekonomie te verwesenlik.
In plaas van ’n teësinnige oopmaak van die ekonomie met ’n lang lys van goedgekeurde goedere wat vervaardig en verkoop mag word en die beperking aan wie dit verskaf mag word, moet die ekonomie eerder met ’n kortlys van goedere wat nie verkoop mag word voor die dag kom.
’n Bekende ekonoom reken dat die effek van die inperking en die voortdurende beleid om besighede gesluit te hou, ’n vernietigend effek op menselewens het, meer as die virus self, en glo dat meer mense weens die toenemende armoede gaan sterf as wat die virus ooit sal kan vermag.
Die virus gaan steeds versprei, ongeag die inperking. Die keuse is om mense toe te laat om weens die virus te sterf of toe te laat dat dieselfde hoeveelheid mense aan die virus gaan sterf terwyl die land se ekonomie totaal vernietig word.