Entertainment

Jannie en Chanie bekoor by die KunsteGrot

Jannie du Toit en Chanie Jonker het die gehoor getoor en bekoor met hulle uitvoering Saterdagaand by die KunsteGrot.

Terwyl teatergangers gewag het vir die krag om weer aan te kom, is piekniekmandjies uitgehaal en solank begin kuier.

Die ekstra wag was die moeite werd vir hierdie twee uitstekende kunstenaars. Jannie en Chanie verf met wonderlike klankkleure wat die kombinasie van klavier, trekklavier, kitaar en stem kan bied.

Jannie het ’n paar van sy nuwe liedjies asook gunstelinge uit sy jeugjare gekombineer met Jacques Brel se meesleurende Europese romantiek wat vir ’n unieke produksie gesorg het.
Chanie is ’n kunstenaar uit eie reg en het met puik klavierspel en trekklavier Jannie begelei. Dit was beslis ’n voorreg om hierdie twee kunstenaars op die verhoog te beleef.

Rita Volschenk van die KunsteGrot verdien ’n groot applous vir die gehalte van Kunstenaars wat gereeld daar optree. Daar wag nog uitstekende produksies wat reeds vir die jaar vasgemaak is, moenie dit misloop nie.

Foto Regs: Jannie en Chanie op die verhoog saam met Rita Volschenk van die KunsteGrot.



Volgende aan die beurt is die Doringdraad Duwwels met Thabazimbi se eie Mari en haar twee mede musikante, Yolandi en Heleen wat op 18 April optree. Die groep bestaan reeds vanaf die drie vroue se studentejare.

Lizz Meiring en Wynand van Vollenstee kom op 2 Mei aan die beurt met “Non met Vakansie” en op 15 en 16 Mei word dit opgevolg met die skreeusnaakse “Die Kat kom Weer” en “Tussen Vyf en Half-ses” deur die plaaslike Rivotoneelgroep.

Ander kunstenaars wat ook al vasgemaak is sluit in Ruhan du Toit (4 Junie), Lizz Meiring en Michelle Botha in “Die Weduwee se Sjampanje” (12 September) asook die gewilde pianis, Rocco de Villiers heelwat later in die jaar op 2 Oktober.