AfriForum bied Nehemia-opleiding in Thabazimbi aan

AfriForum het Nehemia-opleiding Saterdag 19 Oktober 2019 by die Tarentaalpan-jeugkampterrein in Thabazimbi aangebied. AfriForum-lede van Ellisras, Thabazimbi en die Matlabas-gebied het dit bygewoon.

Die doel van Nehemia-opleiding is om gemeenskappe weerbaar te maak, asook om te wys dat almal verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid kan neem en dit binne die raamwerk van die wet gedoen kan word. Dit wys ook dat gemeenskappe hulself doeltreffend kan beveilig deur met verskeie rolspelers saam te werk.

“Dit is vir ons belangrik om hierdie opleiding aan ons gemeenskappe te bied. Ons wil vir hulle wys dat alternatiewe veiligheidstrukture geskep kan word wat saam met die SAPD kan werk om ’n veiliger omgewing vir die hele gemeenskap te skep,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se veiligheidshoof van die noordstreek.

Die besprekingsgroep na afloop van die aanbieding deur Hillel Coetzer, AfriForum se veiligheidshoof van die noordstreek.

Die opleiding het op gebiedsbeskerming, toneelhantering, patrollie en regs- en risiko-aspekte gefokus.

“Die opleiding was veral doeltreffend omdat lede van die plaaslike polisiestasies dit ook bygewoon het. Dit bevestig dat ons met goeie samewerking ’n groter veiligheidsnetwerk in gemeenskappe kan bewerkstellig wat aan alle wetlike aspekte voldoen,” sluit Coetzer af.

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke: SMS jou dorp se naam na 31481 (R1).