Oud-Frikkie ernstig beseer in fratsongeluk in VSA
Marthinus Boshoff (27), oudste seun van Bossie en Martie Boshoff van Thabazimbi, is Woensdag ernstig beseer in ’n fratsongeluk op die saai-plaas waar hy vir ’n groot boer in die Birmingham omgewing in die Amerikaanse deelstaat Alabama as voorman werksaam is.
Nadat Marthinus aan Hoërskool Frikkie Meyer gematrikuleer het, het hy hom as dieselwerktuigkundige gekwalifiseer. Hy is gedurende Maart vanjaar oorsee om op die plaas in Amerika te gaan werk.
Marthinus het agter ’n slootgrawer masjien aangeloop terwyl dit besig was om ’n sloot op die plaas te grawe.
Op ’n manier het, is hy deur vermoedelik die graaf getref en het ernstige beserings aan sy bene opgedoen.
Weens die erns van sy beserings in hy per helikopter na die Birmingham hospitaal vervoer waar sy linkerbeen net bokant die knie geamputeer is. Hy het ook ernstige beserings aan sy regterbeen opgedoen.
Hy sal nog addisionele operasies aan sy regterkant en bekken, waar hy ook wonde en frakture opgedoen het, moet ondergaan. Volgens die dokter het die wond aan sy linkerbeen reeds so vinnig genees dat hulle nie sintetiese vel daarop gaan oorplant nie.
Die familie was vanoggend 26 Julie om 04:00 (Suid-Afrikaanse tyd) telefonies met hom in sy hospitaalbed in verbinding en het met hom gepraat. Volgens die familie het hy goed geklink en volgens die predikant, Reverent Rodney, wat hom in die hospitaal besoek het, wil hy net ’n barbeque hê.
Die familie het dan ook hul dank uitgespreek teenoor die gemeenskap in Amerika wat Marthinus en die familie so getrou ondersteun en ingelig hou aangaande sy toestand en die mediese aspekte ten opsigte van sy beserings en operasies.
Volgens die familie lê daar ’n lang pad van herstel vir Marthinus voor, maar is hulle almal positief en vol hoop.
Sy ouers, Bossie en Martie, het mekaar by Hoërskool Frikkie Meyer gedurende die 80-tiger jare as leerkragte ontmoet en is nie lank daarna getroud. Martie is steeds as Adjunk Hoof betrokke by Hoërskool Frikkie Meyer.
Die gesin spreek hul opregte dank uit teenoor die gemeenskap wat hulle onder hierdie moeilike omstandighede dra. Hulle waardeer elke persoon se oproep, gebede en woorde van bemoediging, “Ons word omsluit met God se liefde”, het Martie gesê.