TLU SA beklemtoon lesse uit Zimbabwe aan ANC
TLU SA sê in ‘n mediaverklaring dat die ANC en sy bondgenote gereeld by Zimbabwe besoek aflê om daar te leer hoe om grondonteiening plaaslik toe te pas. Dié kommunisties-gedrewe party sal goed doen om hom nou weer van die al erger-wordende hongersnood daar, wat die gevolg van onbesonne kommunistiese beleid is, te gaan vergewis.
“Daar kan slegs een uitkoms vir Suid-Afrikaners wees indien daar toegelaat word dat die ANC met hulle domastrantheid voortploeter,” sê Johan Steyn, TLU SA se Streeksvoorsitter Oos-Kaap.
“In Zimbabwe heers daar ’n al groter-wordende noodtoestand waar, behalwe vir die land se vele ander ellendes, voedsel vir sy burgers haas onbekombaar is,” sê hy. “Dit is die direkte en onafwendbare uiteinde van ’n beleid waar kommersiële boere se grond gesteel is en boere en hulle gesinne uitgemoor en verjaag is. Alles onder die toesig van Robert Mugabe – held van die ANC – se plunderende oog.”
Suid-Afrika is reeds verby die omdraaipunt waar dit maklik weer op gesonde ekonomiese basis kan groei en voedsel en vesel aan sy inwoners verskaf. Die gebeure in Zimbabwe is ’n spieëlbeeld van gebeure in Suid-Afrika.
“Meeste bakkerye daar het hul deure gesluit omdat koring haas onbeskikbaar is en elektrisiteit tot 15 ure per dag nie verskaf word nie,” verduidelik hy. “Die situasie is vererger deurdat daar nie buitelandse valuta is om die nodige koring en ander graan in te voer nie, omdat die ganse Zimbabwiese ekonomie reeds etlike jare vernietig is. Die broodprys het, volgens die Bakers’ Association of Zimbabwe, binne ’n paar dae verdubbel. Afleweringsvoertuie word aangeval en van hulle vragte brood gestroop. Geen ekonomiese uitset op kommersiële skaal vind meer daar plaas nie.”
Ten spyte dat Zimbabwe by verre beter landbou-omstandighede soos hoër reënval, vrugbare grond en ’n meer gematigde klimaat as Suid-Afrika met sy ongeveer 12% vrugbare grond het, krepeer Zimbabwiërs van die ellende en hongersnood.
“Plaaslik, te danke aan ’n landbougemeenskap wat plaasaanvalle, droogte, ’n openlik vyandige regering en verskeie ander probleme trotseer, het die verbruiker tans ’n voedselverskeidenheid om van te kies en te keur,” sê Steyn. “Maar, gegewe die ANC se daadwerklike en onophoudelike pogings om produksie op feitlik elke terrein onmoontlik te maak, gaan dié situasie nie vir ewig duur nie.”
Die ANC-regering se reserwes is uitgeput, belastinginkomste gaan nie volgens die begroting verhaal word nie, reddingsboeie word teen ’n duiselingwekkende tempo aan gefaalde staatsentiteite uitgedeel en die wisselkoers hou aan verswak. Boonop is daar duidelik geen erns om korrupsie, diefstal en wetteloosheid wortel en tak uit te roei nie. Geen landsekonomie kan dit op die lange duur oorleef nie.
“Die verontagsaming van eenvoudige ekonomiese beginsels slaan nou uiters pynlike hale oor die rûe van die Zimbabwiërs,” sê hy. “Baie het hiernatoe gevlug waar Suid-Afrikaanse boere hulle nog kon voed.
“Die ANC bly siende blind. Waarheen vlug die inwoners van ons land wanneer dieselfde ekonomiese beginsels hier begin geld?
“’n Honger burgery is ’n opstandige burgery. Ons sien daagliks die wangedrag waaraan ’n bedorwe bevolking hulle skuldig maak. Hoeveel te meer wanneer hulle nog boonop honger is?”
Elke landbouer moet sy boerdery deur middel van radikale ekonomiese denke, die gebruik van toepaslike besigheidstegnologie, finansiële voorsorg en konserwatiewe denke teen die komende storm pantser.
“Om te glo dat die ANC van plan gaan verander is dwaasheid,” waarsku Steyn. “Die NDR – Nasionale Demokratiese Rewolusie – en Strategie- en Taktiekdokumente spel baie duidelik die ANC-agenda uit. Ons maak ’n groot fout om te glo dat hulle deur gesprekvoering en onderhandeling sal afsien van die katastrofiese beleidsrigting.”