KunsteGrot: Maar net èèn Rocco – Kortbroek en Lang Kouse
KunsteGrot-gangers het weereens top-gehalte vermaak deur een van ons Top vermaaklikheids-kunstenaars, die minlike, die eiesoortige, die einste en seker een van Suid-Afrika se gewildste pianiste – Rocco de Villiers, Vrydagaand 8 Maart by die KunsteGrot op Thabazimbi beleef.
Nuwe klere, ’n splinternuwe pienk klavier en ’n nuwe CD vir aanhangers het deel uitgemaak van sy nuwe show waarmee hy gehore hierdie jaar regoor die land gaan vermaak.
Soos gewoonlik het hy sy vertoning afgewissel met sy briljante klavierspel en staaltjies uit sy verlede en vorige vertonings.
Rocco het bietjie teruggegaan na sy kleintyd waar hy op ’n plaas naby Harrismith in die Oos-Vrystaat grootgeword het. Op die huidige stadium in sy lewe het hy begin terugdink aan hy die dinge as ’n kind ervaar het in hierdie beginjare toe hy as kleuter reeds klavierles by mevrou Mona gekry het.
Hy het dan ook so ’n bietjie met die Vrystaters gespot met sy ouma wat altyd gesê het dat al die kalkwater wat hulle gedurende die Anglo-Boereoorlog moes drink het die Vrystaters se DNA beïnvloed, die dat hlle met hul met hul annersgeit opgeskeep sit.
Sy was dan ook die een wat hom onderskraag het om op te staan teenoor die boelies wat almal boelie wat nie soos hulle is nie.
Hy sê deel hiervan is die kortbroek en lang kouse wat deur sy boelies gedra is as hulle hom teen die grond platgeslaan het. Sy lewe het goed uitgedraai. Die einste kortbroek en langkouse, die naam van sy vertoning en nuwe CD, het hy nou as simbool aanvaar om teen hulle op te staan – die boelies wat nou geld betaal om by sy konserte na hom te kom luister en sy CD’s te koop.
Dit is steeds net Rocco wat ook daarmee wegkom om met ’n formele langmouhemp, ’n deftige snyers-baadjie, kortbroek en lang kouse, steeds op sy beste vertoon as hy eers op die verhoog is en agter die mikrofoon of klavier inskuif.
Rocco het klassieke klavieropleiding ontvang maar dit was juis hierdie einste mevrou Mona wat vir hom gelei het om weg te breek en sy eie ding op die klavier te doen om mense te vermaak. Op daardie vroeë ouderdom het sy reeds vir hom gesê dat sy kan sien dat hy eerder mense wil vermaak. Dit was dan ook hierdie leiding wat sy gegee het wat aan Rocco die deursettingsvermoë gegee het om een van Suid-Afrika se top kunstenaars te word waar hy gehore, op die verhoog en op televisie, soveel jare reeds te vermaak.
Rocco sê dat na ’n redelike vol 2018 met vertonings in groter sentra, het hy besef dat hy sy konserte vanjaar na die platteland moet bring. Vir Thabazimbi het hy net verlede jaar afgeskeep en hierdie vertoning was reeds sy derde optrede in die KunsteGrot.
Met die beplanning van sy plattelandse toere het hy spesiaal voorsiening gemaak vir ’n konsert gedurende Oktober vanjaar in Harrismith wanneer mevrou Mona haar 90ste verjaarsdag vier.
Hiervoor het hy reeds ’n musiekstuk gekomponeer wat sy saam met hom op die verhoog gaan uitvoer.
Rocco is ook besig om aan sy nuutste CD te werk en het die gehoor betrek met die keuse van ’n paar boermusieknommers wat een van Jim Muller se bekende Keurspel nommers insluit. Die antwoord vanaf die vloer was ’n besliste “JA”.
Soos gewoonlik het die mense nog vir ’n tydjie na die konsert hulle piekniekmandjies leeggemaak en gesellig saam gekuier.
Verblydend was die goeie opkoms van die Thabazimbiërs asook die nuwe vriende vanaf Leeupoort wat ook opgedaag het.
Ondersteun gerus die aanbiedinge wat die KunsteGrot na Thabazimbi toe bring. Dit is almal vertonings deur Suid-Afrika se top kunstenaars en teen ’n prys waarmee jy nie eens na die stad kan ry om hierdie mense lewendig op die verhoog te ervaar nie.
Die volgende aanbieding is op 4 Mei wanneer Je-anie en Germandt, van Binnelander-faam, hulle vertoning “Keelvol” hierheen bring.
Kunstenaars wat ook nog op die lys is, is Kevin Leo, Michelle Botha (Ladies Night), Jannie Moolman en Blackie Swart. Meer hieroor in ’n opvolge berig.
Met die somerseisoen wat ook einde se kant toe staan, is daar ’n hele hoop Golden Olden Moevies wat voorlê vir die stil aande tussenin. Die groot skerm en goeie klank maak hierdie flieks in die KunsteGrot ’n belewenis wat jy nie voor jou TV kry nie.
Hou Kwêvoël dop by www.facebook.com/kwevoel vir meer inligting hieroor.