Soldate dros uit Venezuela weermag na aanvalle op burgerlikes
Meer as 100 Venezuela soldate het gedros en Saterdag na Colombia oorgeloop nadat die weermag, wat steeds die korrupte president Nicolas Maduro steun, in gewelddadige optrede teen burgerlikes betrokke was.
Spanning het hoog begin loop nadat Maduro se troepe brûe en toegangspaaie na Colombië en Brazilië, waardeur noodvoorrade die land binnegebring sou word, blokkeer het. Die humanitêre hulp, wat hoofsaaklik uit kos en medisyne bestaan, is deur Amerika georganiseer. Hierdie soldate vrees nou dat Maduro wraak op hulle families sal neem.
Van die soldate sê dat hulle met skok en afgryse gevul is oor die gewelddadige tonele waar die weermag hul eie mense met rookgranate en rubberkoeëls aangeval het. Die mense het teruggeveg deur klippe na soldate en onluspolisie te gooi. Twee burgerlike persone is tydens die voorvalle gedood.
Volgens die soldate het hulle gevlug omdat daar verandering in hulle land moet kom en hulle kinders kos nodig het.
Die meeste van hulle is voetsoldate wat sê dat die hoë offisiere steeds deur korrupsie aan Maduro onderdanig is en dat Maduro tot aan die einde sal veg om bewind te behou.
Nicolas Maduro het op 14 April 2013 die presidentsverkiesing net-net gewen in ’n verkiesing wat volgens die opposisie met korrupsie deurspek was. Maduro het hierdie olieryke land nog verder in armoede na sy voorganger, die sosialistiese Hugo Chaves, se dood gedompel en die land se rykdomme verder geplunder.
Die weermag generaals is ryklik hierdeur beloon en met sy sosialistiese beleid het die land se ekonomie in duie gestort. Voedseltekorte word op groot skaal ondervind met hongersnood en swak gesondheidsdienste, insluitend ’n groot tekort aan medisyne en ander lewensmiddele regoor die hele land.
Die humanitêre hulp wat vir Venezuela bestem is, het opgehoop in skure in Colombië en Brazilië en is die groot geskilpunt tussen Maduro en die leier van die opposisie, Guaido, wat teruggevoer kan word na Maduro se betwisbare herverkiesing in 2018. Guaido het homself daarna op, ’n tegniese punt in die land se grondwet, as die land se oorgangspresident aangewys wat nie deur Maduro, met die weermag agter hom, aanvaar word nie.

Met die onbeheerste styging in inflasie kan inwoners nie meer die basiese items bekostig nie. Dit het dan ook aanleiding gegee tot die omvattende humanitêre hulp deur die buiteland waar 50 lande, insluitend die meeste Westerse lande, Guaido as president erken. Maduro maak staat op sy bondgenootskappe met China en Rusland.
Guaido het ook te kenne gegee dat hy vandag, Maandag 25 Februarie, nieteenstaande ’n reisverbod deur Maduro op hom geplaas, ’n ontmoeting tussen hoofsaaklik Latyns-Amerikaanse lande in Colombië sal bywoon.
Die Amerikaanse Visie-President, Mike Pence, sal Amerika tydens die samesprekings verteenwoordig waar daar verwag word dat hy konkrete stappe sal aankondig om die krisis aan te spreek.
Colombië en Brazilië het ook aangedui dat hulle voortdurende druk op Maduro sal uitoefen om as president terug te staan. Intussen het President Donald Trump nog nie militêre ingryping as moontlike uitweg geëlimineer nie.
Meer as drie miljoen mense het die afgelope paar jaar uit Venezuela gevlug.
Volgens die soldate is Maduro se aansien in die weermag besig om te kwyn en is die weermag besig om te verkrummel. Hulle plaas hul vertroue ten volle in die opposisieleier, Juan Guaido.
Hulle reken dat hulle aksie ’n domino-effek sal hê met talle professionele soldate wat moeg raak en nie verder in slawerny gedompel wil word nie.
Intussen het die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Mike Pompeo, die naweek gesê dat Maduro se dae getel is.
“Dit is moeilik om te sê hoeveel dae die protes nog gaan voortduur, maar ek is seker dat die mense van Venezuela sal sorg dat Maduro se dae getel is.”