“Baasbrien” van Mooinooi op nog ’n moordklag aangekeer

Polisie Crime Scene

Maroela Media berig dat die sogenaamde 52-jarige “baasbrein” agter die verdwyning en moontlike moord op die egpaar Anisha (30) en Joey van Niekerk (30) van Mooinooi, amptelik aangekla is van nog ’n moord. Dié moord is gedurende 2014 op ’n kleinhoewe buite Rustenburg gepleeg.

Die woordvoerder van die Rustenburg-polisie, Sersant Ofentse Mokgadi, het aan Maroela Media bevestig dat die “baasbrein” en sy 23-jarige werker Dinsdag in die Brits landdroshof in hegtenis geneem is waar hulle dieselfde dag verskyn het tydens hulle voortslepende borgaansoek wat op 18 Januarie begin het.

Die “baasbrein”, sy 21-jarige vrou, sy 29-jarige seun en dié se 18-jarige meisie, twee van sy werkers, broers van onderskeidelik 18 en 23 jaar oud, en twee ander mans staan tereg op aanklagte van sameswering tot moord, moord, ontvoering, verkragting, roof met verswarende omstandighede en huisbraak met die bedoeling om te steel in verband met die verdwyning van Anisha en Joey.

Adjudant Offisier Jannie van der Walt, ondersoekbeampte van die Rustenburg-polisie, wat vroeër deur die staat ingeroep om die verdagtes se borgaansoek teen te staan, het self die inhegtenisneming gedoen.

Hy het vroeër getuig dat hy ’n saak van sakeroof en moord teen twee van die beskuldigdes, die 23-jarige werknemer en die “baasbrein” ondersoek. Nog ’n beskuldigde is ’n getuie in sy ondersoek.

Die inhegtenisneming hou verband met ’n voorval wat op 24 Junie 2014 op ’n kleinhoewe buite Rustenburg plaasgevind het toe Mandie Jansen van Rensburg dié dag in haar werkswinkel beroof en doodgeskiet is.

Volgens getuienis het die “baasbrein” die slagoffer se plot gekoop. As deel van die ooreenkoms moes hulle ’n polis in hul name uitneem met die ander as begunstigde.

Net twee maande na die polisse uitgeneem is, is sy vermoor. Die polis van R1,8 miljoen is aan die “baasbrein” uitbetaal.

Janse van Rensburg is vermoor nog voor sy die koopkontrak kon onderteken en die eiendom is dus nooit in die “baasbrein” se naam geregistreer nie.

Volgens Van der Walt was daar destyds nie genoeg bewyse om iemand vir die moord te vervolg nie en die moordsaak is destyds van die hofrol geskraap.

Die beskuldigdes se borgaansoeke in Anisha en Joey se saak word weer in April in die Brits Landdroshof aangehoor.

3 Jan Mooinooi Beendere gevind Joey-Anisha-Van-Niekerk5-1-320x428Maroela Media het destyds berig dat Anisha en Joey op 10 Desember omstreeks 07:30 die laaste keer in die Mooinooi omgewing gesien is waar hulle op ’n kleinhoewe gewoon het.

Hulle was op pad na Pretoria om Joey se pa se roudiens by te woon, maar hulle het nooit hulle bestemming bereik nie.

Hul uitgebrande Nissan X-trail is later in die Magaliesburg omgewing gevind. Weke later is uitgebrande beendere, wat die polisie vermoed die oorskot van Anisha en Joey kan wees, opgespoor.

Die beendere is vir DNS-toetse gestuur om die oorsprong daarvan te bevestig. Die uitslae van die toetse is nog nie bekend nie.

Tydens die borgtogaansoeke het die hof gehoor dat die vroue glo aan hul hande in ’n skeepsvraghouer opgehang is waar hulle na bewering verkrag en vermoor is.
Suur is daarna glo oor hulle liggame gegooi en hulle is aan die brand gesteek voordat die beskuldigdes glo die oorskot in ’n beboste gebied gaan stort het.