Community

Plaasvoorman van Tom Burke koelbloedig doodgeskiet

‘n Plaasvoorman van die plaas Dale in die Tom Burke-omgewing, Jasper von Kleist (61), is gisteraand 21 Maart dood nadat hy deur plaasanvallers in die bolyf geskiet is.

Volgens sy vriendin, me Sonja Joubert, het hulle gisteraand gesit en TV kyk toe hulle skote gehoor het wat buite hulle huis afgevuur word.

“Jasper het opgespring en op daardie oomblik het van die mans deur die voordeur op ons begin skiet. Die deur het glasvenstertjies en hulle kon ons binne sien.  Nadat die eerste skoot my getref het, het Jasper voor my ingespring en hy is in die bors geskiet.”

“Nog ʼn skoot het my getref en ons het geval met Jasper wat half oor my gelê het. Ek het gehoor hoe hy roggel. Toe hou die roggel op en ek voel hoe hy ophou asemhaal. Toe weet ek hy is dood.”

“Die mans het niks gesê nie, niks gevra nie. Hulle het net van buite op ons geskiet. Dit was of hulle ons net wou doodmaak, niks anders nie…”

Joubert is twee keer raakgeskiet. Een skoot is deur haar arm en die ander deur haar skouer. Sy het vandag die bloedige toneel aan die VF Plus gewys en gesê dit het nie gelyk of die aanvallers iets wou roof nie, maar of hulle net die mense op die plaas voor die voet wou doodskiet.

Charlie Solomon, seun die bekende boer en plaaseienaar Nico Solomon, is ook gewond terwyl hy van die vier gewapende aanvallers probeer vlug het.

Sowat vyfhonderd boere van die omgewing het die polisie vanoggend gehelp met die soektog na die mans. ʼn Helikopter en ligte vliegtuig is ook gebruik.  Volgens die polisie is daar selfone geroof.

In nog ʼn voorval op ʼn kleinhoewe naby Port Elizabeth is ʼn egpaar in hul sewentigerjare en ʼn familielid in haar tagtigerjare Dinsdag in ʼn aanval beseer.

Maandagaand is ʼn plaasbestuurder van Ladybrand vermoor en sy vrou met messe gesteek en verkrag.

Dr Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, is tans in Brussel, België, waar hy plaasaanvalle en onteienings sonder vergoeding met verskeie mense en groepe soos Unpo (Unrepresented Nations & Peoples Organization)  en die Vlaamse Belang Jeugaksie (in Gent) gaan bespreek.

Hooffoto: Marcelle Maritz, VF Plus-provinsiale leier in Limpopo, saam met Sonja Joubert.